'n Publikasiedatum gee 'n goeie aanduiding van die ouderdom (en gevolglike relevansie) van die inligting. Die datum waarop die bladsy die laaste keer opgedateer is, kan ook help om die ouderdom van die inligting te bepaal. Verskillende bladsye van 'n webwerf kan verskillende datums hê; maak dus seker dat die publikasie-datum of laaste-verander-op-datum die relevante een vir die betrokke bladsy is.
Die publikasiedatum of laaste-verander-op-datum word gewoonlik onderaan 'n webbladsy verskaf. Die datums kan egter misleidend wees, want 'n webmeester vergeet soms om die datum te verander nadat hy aan die webbladsy gewerk het.
As daar nêrens op die webwerf 'n datum is nie, kan die volgende metodes gebruik word om die publikasie-datum uit te vind:
-
Met Netscape Navigator:
- Regskliek met die muis op enige plek op die oop bladsy, behalwe op 'n skakel. Kies Properties.
OF
-
kies Page Info onder die View-opsie op die kieslys om uit te vind wanneer die oop bladsy op die netwerkbediener gelaai is.
- Aanlyn met enige webblaaier:
'n Programmetjie met die naam Page Freshness is beskikbaar vanaf 'n webwerf genaamd Bookmarklets. Voeg dit (of enige van die ander items) by die favourites-lys. Om dit te gebruik, maak die bladsy waarvan die ouderdom bepaal moet word, oop en kies dan die bookmerkie van die navigasie-gereedskapsbalkie (navigation toolbar) af.
Om die Page Freshness Bookmarklet af te laai:
- Tik die URL
http://www.bookmarklets.com/tools/data/index.phtml
in die adresblok en druk ENTER, of kliek hier.
- Beweeg die muiswyser oor die skakel Page Freshness, lees die beskrywing en kliek met die regtermuisknoppie.
- Kies Add to Favorites of Add to Bookmarks om die boekmerkie by die lys van boekmerke te voeg.
Soms het 'n webwerf 'n bladsy met 'n lys van veranderinge wat onlangs aangebring is. Die frekwensie van opdatering (een keer per dag/week/maand) word soms ook genoem. Moet egter nie glo dat webwerwe so dikwels opgedateer word as wat die uitgewer beweer nie. Toets die bewerings deur gereeld terug te gaan en te kyk of daar enige veranderinge is. As daar 'n Wat's nuut?-afdeling op die webbladsy is, kan jy daar gaan kyk hoe oud die inligting is wat as "nuut" beskryf word. As jy weet van nuwe verwikkelinge soos 'n kuur teen VIGS, kyk of dit op die webwerf genoem word.
As die webwerf 'n besprekingsforum het, kyk hoeveel inskrywings daar onlangs gemaak is. Dit kan ook 'n aanduiding gee van die hoeveelheid ander mense wat die webwerf gebruik, en wie die mense is wat dit gebruik. Die soveel-besoekers-sedert-datum-teller kan ook gebruik word as aanduiding van hoe gewild die webwerf is, en wanneer die besoekers begin tel is. Die webwerf moet ten minste varser as die begin-tel-datum wees.
Die ouderdom van die bronne wat gelys word, kan ook 'n aanduiding gee van hoe oud die navorsing is. Die datum waarop inligting vir statistiek, grafieke en kaarte versamel is, behoort duidelik te wees.
Kopiereg maak die teks nie noodwendig meer betroubaar nie (dit help egter om die oorsprong daarvan te bepaal), maar die datum van kopiereg kan 'n aanduiding gee van die ouderdom daarvan.
Aanlyn-weergawes van boeke is dikwels die ouer weergawes waarvan die kopiereg verval het. Solank die gebruiker bewus is daarvan, maak dit nie saak nie.
Oor die onder konstruksie-kennisgewing is daar meningsverskil. Cooke 14 meen dit beteken dat 'n webwerf besig is om opgedateer te word. Dit bevestig dus die relevansie en varsheid van die inligting. 'n Gebruiker moet later terugkeer om te sien wat die veranderinge was wat die webmeester aangebring het. 'n Webmeester behoort egter eers die nuwe deel van die webwerf klaar te maak, en dan die 'ou' deel daarmee te vervang. 'n Onder konstruksie-kennisgewing hoort nie op 'n professionele webwerf nie.
Sommige inligting word as 'n grap of poets gepubliseer. 'n Gebruiker moet skepties wees oor enige inligting wat op die 1ste April van enige jaar gepubliseer is.
Volgens Kim 11 verloor gebruikers vertroue in 'n webwerf as skakels wat na ander webwerwe verwys, nie werk nie. Skakels behoort gereeld opgedateer en gebreekte skakels uitgehaal te word. Een of twee stukkende skakels op 'n webwerf maak nie saak nie (die ander rekenaar is moontlik nie beskikbaar nie of oorlaai) maar te veel stukkende skakels dui op inligting wat nie onderhou word nie.
Werkende skakels kan ook 'n aanduiding wees dat die web dikwels besoek word. Hoe meer mense die werf besoek, hoe groter is die waarskynlikheid dat gebreekte skakels opgespoor, aangemeld en herstel kan word. Minder foute beteken dus meer toetsers, en hoe meer toetsers 'n webwerf het, hoe meer geloofwaardig word die inhoud.
Is dit waarskynlik dat die webwerf oor 'n jaar nog gaan bestaan? Baie onderwyskolleges in Suid-Afrika sluit permanent teen die einde van Januarie 2001. 'n Webwerf soos dié van die Suid-Afrikaanse Kollege vir Onderwyser-Opleiding is dus 'n groter risiko as UNISA s'n. Inligting van die Wêreldwye Web af is vlugtig: wat vandag bestaan, is môre nie meer daar nie. Dis beter om bronne te gebruik waarna jy later weer kan verwys.
Sommige tipes inligting is net vir die oomblik relevant. Aankondigings oor Amerika se nuwe president, of 'n kontroversie rondom kerntoetse is moontlik net op die webwerf terwyl dit nog nuus is.
Kliek hier om die hoofstuk oor die Oorsprong van die inligting op 'n webwerf te lees.