Huis toe
Opsomming
Indeks
Inleiding
  • Eerste Indrukke
  • Inhoud
  • Ouderdom
  • Oorsprong
  • Doel/Gehoor
  • Gevallestudie
    Gevolgtrekking
    Webwerftipes
    URL's
    Skakels
    Kitskriteria
    Nuttige Wetenskapwerwe
    Bronnelys
    Woordelys
    Spider-web
    "With the possible exception of God during the writing of the Bible, every writer in history has needed an editor.
    Anyone who edits their own copy has a fool for an editor."

    - Donald Davis


    Oorsprong van die Inligting

    Vae terme soos na bewering, so-en-so sê (of beweer), volgens so-en-so en volgens 'n betroubare bron laat 'n koerantstorie dadelik geloofwaardigheid verloor. Bewerings is net eenvoudig nie geloofwaardig as die bron van die "bewerings" - en sy betrokkenheid by die gebeure - nie genoem word nie. Die meeste eerlike en verantwoordelike skrywers is nie bang om hul bronne te noem nie.

    Om een of ander rede - moontlik omdat dit "tegnologie" is ('n rekenaar kan mos nie verkeerd wees nie) - word webwerwe vergeef as die bronne verswyg word. As die oorsprong van die inligting (in enige medium) nie opgespoor kan word nie, is daar rede om skepties te wees oor die geloofwaardigheid daarvan. As dit die moeite werd was om inligting na te vors en te publiseer, behoort dit ook die moeite werd te wees om die oorsprong van die inligting te publiseer - tensy daar nie 'n geloofwaardige oorsprong is nie, of tensy die skrywer bang is dat lesers die oorspronklike bronne opspoor en sien dat aanhalings buite konteks was, of dat sekere dele van die bevindings geïgnoreer word. Die naam en reputasie van die skrywer, instansie en bronne is een van die kragtigste maniere om die gehalte van inligting op die Web te ondersoek.

    Die legende oor die verlore dag (die dag toe die son stilgestaan het sodat die Bybelse Josua sy geveg kon wen) wat deur NASA se rekenaars verklaar is, noem byvoorbeeld die bron as wetenskaplikes by NASA. Inligting waarvan die bron nie genoem word nie, moet nie vertrou word nie.

    Die oorsprong van inligting verwys onder andere na

    1. wie die webblad geskryf het,
    2. wie die instansie is wat die dokument publiseer,
    3. en wat ander te sê het oor die skrywer, die instansie en die webwerf.


    1. Wie is die skrywer en waar kom die inligting vandaan?
    2. Die eerste leidraad na die oorsprong van inligting op 'n webwerf is die skrywer se naam. Dit kan gewoonlik bo-aan of onderaan die webbladsy of in sybalkies ("side bars")gevind word. As daar nie 'n skakel is met of na die skrywer se naam of tuisbladsy toe nie, kan sleutelwoorde soos Kontak ons, Oor ons, Biografie, en Filosofie ("Contact us", "About us", "Biography", "Philosophy") leidrade verskaf na die skrywer (of ten minste 'n instansie) se naam. As die skrywer se naam nêrens op die dokument verskyn nie, kan die URL of domeinnaam gebruik word om die skrywer te probeer opspoor: Kap die laaste deel van die URL af tot net voor die laaste skuinsstreep en kyk watter inligting beskikbaar is. Hou so aan totdat net die domeinnaam oorbly.

      Om byvoorbeeld die outeur van 'n advertensie oor die tuisbewaring van DNA op te spoor (http://www.d.umn.edu/~dbierke), word die ~dbierke afgekap. Die tuisbladsy van die Universiteit van Minnesota Duluth het 'n opsie people. Die tilde (~) voor die dbierke suggereer 'n privaat-webbladsy by die universiteit. As bierke op die people soekboks ingetik word, lewer dit die volgende inligting:

      Diane Bierke-Nelson, Lecturer at Medicine-UMD, Duluth, email: dbierke@d.umn.edu, Office Address: 141 MED Duluth, MN 55812

      As die URL-ontleding nie die naam van die skrywer verklap nie, kan die eienaar van die domeinnaam (wat nie noodwendig 'n instansie hoef te wees nie) by http://www.allwhois.com/cgi-bin/allwhois4.cgi opgesoek word. Die bylae oor URL's verskaf meer besonderhede oor domeinname.

      'n Persoon kan homself Professor Jan Rap noem, maar as hy 'n wiskunde-professor is, maak dit hom geen kenner op die gebied van evolusie of teologie nie. Die skrywer se naam, as dit eers opgespoor is, kan met 'n gewone soekenjin gesoek word (verskeie soekenjins is altyd beter as om net een te probeer) om te sien of die skrywer al naam gemaak het op sy gebied, of hy al toekennings ontvang het, of hy al in vaktydskrifte gepubliseer het, of hy al boeke geskryf het, of ander mense hom aanhaal - kortom: of hy 'n kenner op sy gebied is. As geen soekenjin sy naam kry nie, is dit dalk 'n kommentator met 'n tydelike belangstelling in die onderwerp (soos 'n joernalis), eerder as 'n kenner wat op die webwerf gepubliseer het.

      As 'n soekenjin die skrywer se naam by ander webwerwe opspoor, moet die ander webwerwe 'n verband vorm met die onderwerp waaroor hy skryf. 'n Webwerf oor VIGS is byvoorbeeld nie geloofwaardig net omdat dit geskryf is deur 'n persoon wat deur soekenjins opgespoor word, as die soekenjins hom as 'n Staatspresident (in plaas van 'n mediese dokter of VIGS-navorser) identifiseer nie.

      Die skrywer se kontakbesonderhede kan ook 'n idee gee of die skrywer werklik bestaan, en is wie hy sê hy is. 'n Werkende e-posadres beteken 'n gebruiker kan die webwerf met die skrywer bespreek. Enige-iemand kan 'n gratis Internet-adres vir e-pos kry; 'n adres wat aandui dat 'n skrywer aan 'n instansie behoort en 'n werklike posadres of fisiese adres en telefoonnommer is dus meer werd as 'n Internet-adres.

      Selfs al suggereer 'n skrywer se kwalifikasies en ondervinding dat hy bevoeg is om oor 'n onderwerp te skryf, maak dit nie die inligting op die webbladsy noodwendig waar nie. Die skrywer van hierdie bladsy oor kreasionisme het 'n doktorsgraad in astronomie.

      As daar 'n skakel na die skrywer se tuisbladsy toe is, kan dit waardevol wees om te gaan kyk wat die skrywer oor homself sê. 'n Tuisblad is 'n uitstalplek vir kwalifikasies, toekennings en skakels na ander publikasies. Skakels wat die skrywer se stokperdjies en lewensfilosofie verduidelik, kan moontlike vooroordele uitwys. Iemand soos Ken Lewis wat byvoorbeeld baie betrokke is by kerkbewegings, is nie noodwendig die beste persoon om oor kreasionisme te skryf nie.

      As die webwerf onder loep ook beskikbaar is as 'n publikasie, is dit die moeite werd om die publikasie te probeer opspoor. Skrywers wat parallel publiseer (in druk én op die Internet) hou gewoonlik iets terug vir die gedrukte weergawe van die publikasie. 'n Gedrukte weergawe verleen onmiddellik meer geloofwaardigheid aan 'n webwerf: iemand vertrou die inhoud van die boek genoeg om geld te waag om dit te laat druk.

      Waarvandaan kom die inligting vir die webwerf? As dit oorspronklike navorsing was, is daar 'n verduideliking van die metode sodat ander navorsers kan probeer om die resultate te herhaal? Is dit akademiese kennis, of haal die skrywer ander kenners op die gebied aan? Is daar 'n volledige bronnelys? Is die aangehaalde bronne erkende kenners op die gebied? Is dit net webwerwe, of is daar gepubliseerde werke ook om die bronnelys te balanseer? Die publikasiedatums van die werke in die bronnelys kan 'n aanduiding gee van die ouderdom en relevansie van die inligting op die webwerf wat ondersoek word. Is dit moontlik dat die bronne glad nie bestaan nie? Die bronne wat gelys word vir The True but Little Known Facts about Women with Aids is almal denkbeeldig.

      Die skrywer hoef nie noodwendig 'n persoon met jare ondervinding te wees om 'n geloofwaardige storie te skryf nie. Joernaliste by gerespekteerde instansies soos The Economist of dié wat artikels skryf vir Encyclopedia Britannica se werk het geloofwaardigheid deur assosiasie met die instansie. Hierdie tipe artikels is goed vir agtergrondinligting, soos wanneer 'n joernalis inligting oor 'n onderwerp soek om voor te berei vir 'n onderhoud met 'n wetenskaplike. Vir 'n ondersoekende artikel kan dit egter die moeite werd wees om die oorspronklike bronne waarna die skrywer verwys, te gaan soek en self te bestudeer om seker te maak dat die moontlikheid van bevooroordeeldheid of aanhalings buite konteks uitgesluit word.

      'n Onbekende skrywer beteken nie noodwendig onbetroubare inligting op 'n webwerf nie. Die reputasie van die instansie namens wie hy publiseer, kan help om die webwerf se betroubaarheid te bevestig.15


    3. Wie is die instansie wat die dokument publiseer?
    4. Die uitgewer verwys na die eerste deel van die URL (webadres) ná die http:// en voor die volgende / ; die persoon of instansie wat die netwerkbediener of webbediener opereer.

      Kirk 16 stel die volgende vrae voor om die geloofwaardigheid van die uitgewer of webbediener te bepaal:

      • Verskyn die naam van die organisasie in die dokument? Is daar opskrifte (headers), onderskrifte (footers) en watermerke om te wys dat dit aan 'n bepaalde instituut behoort?
      • Word die organsisasie erken in die veld waar hy nou publiseer?
      • Is die organisasie bevoeg om die kwessie aan te spreek?
      • Is die dokument deel van die skrywer se professionele pligte?
      • Is die webwerf deel van 'n persoonlike webbladsy, eerder as 'n organisasie s'n?

      As die domeinnaam dié van 'n hoog aangeskrewe gedrukte weergawe is, bevestig dit die eienaarskap van die webwerf en inligting. 'n ISSN-nommer (International Standard Serial Number) help om te verseker dat die inligting deur iemand geëvalueer en geredigeer is.

      Die tipe domeinnaam moet gepas wees vir die tipe inligting wat hier verskyn. 'n Dokument wat soos 'n doktorale verhandeling vermom is, is meer tuis op 'n webwerf met 'n .edu of .ac.za-uitbreiding as op een met 'n .com of .co.za-uitbreiding.

      Bowker, soos aangehaal deur Burbules en Callister 3, het opgemerk dat gebruikers webwerwe met korter URL's as betroubaarder beskou as langer URL's. Veral webwerwe met domeinname wat eindig met .edu, .gov of .org word makliker vertrou. Die .org-ekstensie alleen van 'n webwerf soos http://www.answersingenesis.org/docs/1122.asp is egter geen waarborg dat die inhoud daarvan betroubaar is nie.

      As daar kopiereg op die materiaal is, kan die eienaar van die kopiereg 'n aanduiding gee van wie verantwoordelik is vir die inligting. 'n Publikasie wat die siening van 'n organisasie reflekteer, dra meer gewig as 'n verklaring wat in persoonlike hoedanigheid gemaak is. Die verband tussen die skrywer en die webmeester/eienaar van die webwerf moet dus gesoek word. Diensverskaffers soos Geocities en AOL verskaf persoonlike webwerwe aan enige-iemand wat daarvoor vra. Die domeinnaam moet ooreenstem met wie die webblad beweer dit gepubliseer het. Dit is maklik om 'n webblad af te laai, daarmee te peuter en dit dan met logo's, baniere, agtergrond en al (op 'n ander webwerf) terug te laai asof dit die oorspronklike is. Die domeinname http://www.whitehouse.gov, http://www.whitehouse.net en http://www.whitehouse.com skep al drie die indruk dat dit die Amerikaanse Presidensiële webwerf is. Die domeinnaam met die .gov-uitbreiding is die waarskynlikste (en ware) een vir die amptelike werf van die Wit Huis.

      'n Tilde (~) in die domeinnaam is gewoonlik 'n aanduiding van 'n persoonlike (nie-amptelike) bladsy op 'n amptelike webwerf. Hierdie tipe persoonlike webwerwe is egter besig om te verdwyn. Domeinname is relatief goedkoop en maklik om te kry; mense verkies name wat makliker onthou word soos www.myeiewerf.co.za/ in plaas van www.sacte.ac.za/~carine/myeiewerf/.

      Dit is (soms) moontlik om uit te vind aan wie die domeinnaam behoort. Tik die naam by http://www.allwhois.com/cgi-bin/allwhois4.cgi in en kyk wat die webwerf kan oplewer. Meer besonderhede oor hoe om die eienaar van 'n webwerf op te spoor, is in die bylae oor URL's beskikbaar.

      Die URL van 'n webwerf kan afgebreek word om meer inligting oor die uitgewer te kry. Om die uitgewers van 'n webwerf oor kanker en DNA op te spoor, word die laaste deel van die URL (cancerndnarepair.html) afgekap. http://www.hms.harvard.edu/pathol/sinclair/Pages/ lewer nie veel op nie, maar http://www.hms.harvard.edu/pathol/sinclair/ is die Sinclair-laboratorium se tuisblad. Inligting oor wie die laboratorium is, wat hulle doen, wat hul doelstellings is en hoe om hulle te kontak, is beskikbaar. As die URL nog verder afgebreek word, kry jy http://www.hms.harvard.edu/pathol, die webwerf van die Universiteit van Harvard se mediese skool.


    5. Wat het ander mense te sê oor hierdie webwerf, skrywer of instansie?
    6. Cooke 17 meet 'n skrywer of instansie se reputasie aan die sukses, bruikbaarheid of waarde wat 'n bron vantevore bewys het. Sommige webwerwe lys die toekennings wat hulle al gekry het. 'n Skrywer se ondervinding, toekennings en bydraes in die veld dra by tot sy reputasie. 'n Literatuur-soektog (deur die skrywer se naam op 'n soekenjin te tik om te sien watter ander werke al deur hom gepubliseer is) kan 'n idee gee van hoeveel ander artikels (indien enige) al deur hom gepubliseer is. As van die ander artikels in gerespekteerde joernale gepubliseer is, maak dit die stuk onder ondersoek meer geloofwaardig. Ander webwerwe wat hom aanhaal of kommentaar op sy werk lewer, kan help om 'n mening oor die skrywer, instansie of webwerf te vorm.

      Wié die toekennings aan die webwerf gemaak het, is net so belangrik as dát die toekenning gemaak is. 'n Toekenning vir die bevordering van die kreasionisme-teorie deur een of ander kerkgroep help nie veel vir geloofwaardigheid nie.

      Die URL kan 'n idee gee of hierdie werk deur ander kenners gesien, bespreek en nagesien is. 'n Akademiese besprekingsforum waar verskillende (geleerdes) kommentaar oor spesifieke onderwerpe lewer, het 'n beter kans om gehalte-inligting te lewer as 'n geselskamer vir leke. Hoe meer akademici 'n kans kry om kommentaar te lewer en nuwe idees te bespreek, hoe beter is die kans dat die gebruiker gehalte-inligting gaan kry. Artikels in vaktydskrifte sou meer geloofwaardig wees as artikels oor dieselfde onderwerp wat byvoorbeeld op Sarie se webwerf sou verskyn.

      Wat het ander webwerwe oor hierdie webwerf te sê? Gebruik 'n soekenjin soos Altavista of Google om te sien watter ander bladsye skakels het wat na hierdie bladsy verwys. Tik link:www.newscientist.com in Altavista se soekboks om uit te vind watter webwerwe skakels het na hierdie webbladsy toe. Met Google se gevorderde soekenjin kan die URL in die keuseboks gemerk "Find pages that link to the page" getik word. (Om die betrokke soekboks te sien, moet die skerm 'n bietjie afgerol word.)

      As webbladsye gelys word in 'n betroubare verklarende biblioteek soos Librarian's Index, Infomine, About.com of Britannica.com, beteken dit dat die inhoud van die webwerf reeds deur ander mense goedgekeur is.

      Die hoeveelheid mense wat die webwerf gebruik, gee 'n aanduiding van die gewildheid van 'n webwerf. Besoekertellers tel egter gewoonlik net elke besoek aan die tuisbladsy, selfs al het die besoeker nooit verder gekyk nie. Gewildheid is ook nie dieselfde as gehalte nie.

    Onbekende skrywers en instansies kan ook gehaltewerk lewer. Een kriterium alleen kan nie 'n webwerf se betroubaarheid bepaal nie. Kliek hier om die hoofstuk oor Doel en Gehoor van 'n webwerf te lees.

    carins@ananzi.co.za
    Gemaak met Notepad deur carine op 10 Januarie 2001