Huis toe
Opsomming
Indeks
Inleiding
  • Eerste Indrukke
  • Inhoud
  • Ouderdom
  • Oorsprong
  • Doel/Gehoor
  • Gevallestudie
    Gevolgtrekking
    Webwerftipes
    URL's
    Skakels
    Kitskriteria
    Nuttige Wetenskapwerwe
    Bronnelys
    Woordelys


    Spider-web

    "Common sense is not so common."

    - Voltaire


    Gevolgtrekking

    Riglyne wat die betroubaarheid en geloofwaardigheid van inligting op 'n webwerf kan waarborg, is onmoontlik. Niks kan gesonde verstand en kritiese denke vervang nie. Hierdie riglyne moet dus nie beskou word as vaste reëls nie; dit is eerder 'n poging om die leser bewus te maak van die probleme en moontlike slaggate van die Wêreldwye Web. Daar is heelwat verskillende stelle riglyne om inligting op webbladsye te evalueer. Kliek hier vir skakels en verwysings na ander webwerwe en boeke oor die onderwerp.

    Weinig webwerwe sal aan al die vereistes voldoen. Feite en idees moet dus bevestig word deur dit met ander bronne (gedruk of elektronies) te vergelyk. 'n Spesifieke bladsy moet as deel van die webwerf waaraan hy behoort, gesien en geëvalueer word.

    Ondanks al die slaggate bly die Wêreldwye Web steeds die maklikste en betroubaarste bron om inligting te kry. Min mense lees meer as een (plaaslike) koerant per dag. Vandag, in die Internet-era, is baie verskillende weergawes van dieselfde storie in 'n kits aanlyn beskikbaar. Jy kan die voor- en nadele van kernkrag lees soos wat plaaslike verslaggewers dit opdis, vanuit 'n linkse, regse of groen-betottelde (Pieter Spaarwater se Afrikaanse term vir lede van die GreenPeace-beweging) oogpunt. Jy kan dieselfde debat volg soos wat dit in die Verenigde State van Amerika, in Frankryk of in Indië gevoer en gepubliseer word.

    Dit help om 'n webwerf, wanneer dit as betroubaar bewys is, te boekmerk. 'n Bron wat op een onderwerp betroubaar is, kan waarskynlik vertrou word met ander onderwerpe ook.

    Soos lees, raak hiperlees ook vinniger met oefening. Die tekens van geloofwaardigheid (of die gebrek daaraan) word al hoe makliker om te herken hoe meer die web gebruik word. Dit is nie nodig om elke dokument teen al die kriteria te toets nie. Om te weet dat alle inligting van die Web af skepties benader moet word is, saam met gesonde verstand, genoeg om te leer hiperlees.

    As 'n laaste kriterium kan 'n joernalis besluit of hy die webwerf vir iemand anders wat in die onderwerp belangstel, sou aanbeveel. As die antwoord ja is, is dit heel moontlik 'n betroubare bron.

    'n Opsomming in tabelvorm kan hier gesien en gedruk word om byderhand te hou as kitsverwysing wanneer webwerwe geëvalueer moet word.

    carine@ananzi.co.za
    Gemaak met Notepad deur carine op 15 Desember 2000