Huis toe
Opsomming
Indeks
Inleiding
  • Eerste Indrukke
  • Inhoud
  • Ouderdom
  • Oorsprong
  • Doel/ Gehoor
  • Gevallestudie
    Gevolgtrekking
    Webwerftipes
    URL's
    Skakels
    Kitskriteria
    Nuttige Wetenskapwerwe
    Bronnelys
    Woordelys


    Spider-web
    "Scientific truth is too beautiful to be sacrificed for the sake of light entertainment or money."

    - Richard Dawkins


    Die Doel en Gehoor van die Webwerf

    Webbladsye word nie ontwerp met wetenskap-joernaliste in gedagte nie. Besighede skep webwerwe om hul produkte aan die groter Internet-publiek te bemark. Groepe met spesiale belangstellings skep webwerwe om sekere sienings, menings of filosofieë te bemark - aan dié wat hul menings deel, of dié wat moontlik oortuig kan word. Akademici publiseer die resultate van hul navorsing vir 'n professionele of akademiese gehoor.

    Lookoff.com18 verdeel die eienaars van webdokumente in vier kategorieë:

    • Maatskappye wat die gebruiker van nuttige inligting voorsien (in die hoop om iets terug te kry).
    • Maatskappye wat probeer om geld te maak deur die Internet.
    • Individue wat probeer geldmaak.
    • Individue wat inligting op Internet beskikbaar stel ter wille van die deel van inligting.

    Die bestaansrede vir die dokument kan 'n aanduiding gee van die betroubaarheid van die inligting. Inligting oor velkanker en die redes daarvoor is meer betroubaar as dit van die kankervereniging se webwerf af kom, as wanneer dit van 'n webwerf af kom wat probeer om hul sonprodukte te verkoop.

    Onder die bestaansrede van 'n webwerf kan die volgende oorweeg word:

    1. Wie is die gehoor?
    2. Wat is die doel van die gebruiker?
    3. Wat is die doel van die eienaar?


    1. Wie is die gehoor?
    2. Die gehoor wat die webmeester in gedagte gehad het toe hy die webwerf ontwerp het, kan 'n aanduiding gee van die akkuraatheid van die inligting. 'n Webwerf soos StarChild wat vir kinders ontwerp is, sal net basiese inligting bevat. Die inligting is ook nie noodwendig korrek nie - wetenskaplike beginsels wat te moeilik is om te verduidelik, word dikwels vereenvoudig sodat kinders dit kan verstaan. In Suid-Afrika word kinders in graad nege ter wille van eenvoud byvoorbeeld geleer dat die rigting waarin 'n elektriese stroom vloei, van die positiewe na die negatiewe pool is. Eers in graad elf word hulle geleer dat elektriese stroom in der waarheid in die teenoorgestelde rigting vloei.

      'n Skrywer het sekere voorveronderstellings oor die agtergrondkennis van die leser. 'n Amerikaanse skrywer oor die geskiedenis van die Verenigde State sal byvoorbeeld praat van Watergate asof al sy lesers weet wat dit is. 'n Webwerf wat landbouprodukte aan Australiese melkboere verkoop, kan nie die term submit gebruik om aan te dui dat 'n voltooide vorm oor die Internet gestuur moet word nie, want dit is die term wat melkboere gebruik as 'n koei deur 'n bul gedek word. As 'n webwerf oor 'n tegniese onderwerp bedoel is vir die algemene webseiler, moet vakterme verstaanbaar verduidelik word. 'n Akademiese webwerf vir 'n professionele gehoor hoef nie terminologie te verduidelik nie. Die taalgebruik, skryfstyl en grafika moet pas by die tipe gehoor wat die skrywer probeer bereik. (Kliek hier om die hoofstuk oor die eerste indrukke van die webwerf te hersien.)


    3. Wat is die doel van die gebruiker?
    4. Die doel van die gebruiker sal bepaal hoe belangrik dit is dat die inligting betroubaar is. As die gebruiker 'n joernalis is wat net agtergrondinligting oor sojaprodukte soek voordat sy 'n onderhoud met 'n voedselwetenskaplike oor soja moet gaan voer, sal enige tipe bron oor soja aan die doel beantwoord. As die joernalis egter ná die onderhoud die wetenskaplike se aansprake oor die voor- en nadele van soja wil toets, is die geloofwaardigheid en die kwaliteit van die inhoud baie belangriker.

      'n Joernalis wat statistieke oor HIV/VIGS soek, sal makliker op 'n algemene webwerf oor VIGS regkom, as op 'n webwerf vir medici wat vol tegniese terme en besonderhede is en onnodig moeilik lees. 'n Artikel oor presies hoe VIGS veroorsaak word, sal egter die gebruik van 'n meer tegniese webwerf vereis. Geloofwaardigheid van 'n webwerf hang dus af van wát die gebruiker met die inligting op die webwerf wil doen.


    5. Wat is die doel van die eienaar?
    6. Die meeste media-organisasies bestaan om 'n wins te maak; as hulle dit nie kan regkry nie, sal hulle weldra nie meer 'n besigheid wees nie. Die meeste wins word gemaak deur gehore aan adverteerders te verkoop. Omdat gehore 'n bron van inkomste is, kompeteer webwerwe met mekaar om die publiek se aandag.19

      Hoe kry die webwerf die gebruiker se aandag? Is dit opvoedkundig of vermaaklik? Is dit bedoel om in te lig, te oortuig of 'n produk te verkoop?

      Die URL of domeinnaam kan 'n leidraad oor die bedoeling van die eienaar verklap: .edu of .ac.za vir 'n akademiese op opvoedkundige instelling en webwerf; .gov of .gov.za vir 'n regeringswebwerf; en .com of .co.za vir 'n kommersiële webwerf. Kliek hier vir meer inligting oor URL's.

      Die onderskeid tussen .com, .org en .net is egter deesdae besig om te vervaag. 'n .fr-uitbreiding beteken nie noodwendig dat die webwerf van Franse oorsprong is nie; ondernemende entrepreneurs van een land registreer dikwels 'n webwerf in 'n ander land ter wille van 'n eksotiese uitbreiding soos .tv.

      'n Webwerf kan egter nie op grond van sy domeinnaam alleen geëvalueer word nie. Nie alle kommersiële webwerwe sal probeer om iets aan jou te verkoop nie. Selfs webwerwe wat probeer om 'n produk te verkoop, kan waardevolle inligting verskaf. Agriweb is 'n Australiese webwerf wat landbouprodukte aan boere verkoop. Om te verseker dat die boere terugkeer na die webwerf, verskaf dit egter ook akkurate inligting oor boerderymetodes en weervoorspellings.

      Die gehalte en aard van .edu en .ac.za-werwe varieer van navorsingsforums vir kernnavorsers by universiteite tot studente se persoonlike webwerwe waar hulle een of ander belaglike teorie probeer verkoop. 20

      Wat kan die borg wen deur die inligting wat op die werf verskyn? Advertensiewaarde? Openbare betrekkinge? Gewoonlik is daar 'n skakel na die organisasie wat die webwerf finansier of huisves. Volg die skakel en bestudeer die organisasie se doelstellings om te sien of daar enige spesiale belangstellings is. Waarom borg hulle die webwerwe wat hulle gekies het? Word navorsing oor longkanker gefinansier deur 'n sigeretmaatskappy? Is dit moontlik om die inhoud aan te pas om die adverteerders tevrede te hou? Word die inhoud gebalanseerd aangebied met skakels na webwerwe wat ander of teenoorgestelde sienings oor die onderwerp het?

      Is daar enige bewyse van ideologieë? 'n Webwerf oor evolusie behoort deeglik ondersoek te word as daar tekens is dat geloofsoortuigings die navorsing kon beïnvloed.

      As die gasheer 'n publikasiereeks, tydskrif, joernaal of koerant soos news24 is, kyk of die ISSN-nommer opgespoor kan word. Publikasies sonder ISSN-nommers is waarskynlik tuisgemaak en het minder outoriteit as 'n publikasie met 'n nommer.

    Kliek hier om te sien hoe die kriteria op verskillende webwerwe toegepas kan word.

    carine@ananzi.co.za
    Gemaak met Notepad deur carine op 7 Januarie 2001