Huis toe
Opsomming
Indeks
Inleiding
  • Eerste Indrukke
  • Inhoud
  • Ouderdom
  • Oorsprong
  • Doel/Gehoor
  • Gevallestudie
    Gevolgtrekking
    Webwerftipes
    URL's
    Skakels
    Kitskriteria
    Nuttige Wetenskapwerwe
    Bronnelys
    Woordelys

    Spider-web
    "Cybermedia will make every man his own editor, which in turn makes every writer a fool. The Internet will transmit misinformation very efficiently. We will miss the gatekeepers."

    - Neal B. Freeman


    Inleiding

    1. Die Doel
    2. Die Aard van die Probleem
    3. Die Bestek van die Studie
    4. Die Metode
    5. Die Teikengehoor


    1. Die Doel
    2. Op 5 Julie 1995 is die (nou bekende) spotprent van Steiner in die New Yorker gepubliseer. Een hond sit voor 'n rekenaar en sê aan 'n ander: "Op die Internet weet niemand jy's 'n hond nie."

      Een van die eerste modelle van massamedia is deur joernalistiekprofessors Bruce Westley en Malcolm MacLean voorgestel. 1 Die hooftema daarvan is om die hekwagfunksie van die media uit te wys: Daar gebeur elke dag heeltemal te veel goed in die wêreld vir een mens om alles eerstehands te ervaar of selfs net van alles te weet wat hom beïnvloed. Die rol van die massamedia as hekwag is om die stories te identifiseer en oor verslag te doen wat hy (die hekwag) dink die publiek wil of moet hoor om ingeligte besluite te kan neem. Mense kies verskillende hekwagte na aanleiding van hul mening en behoefte oor die tipe goed wat hulle wil lees, sien of hoor. Die hekwag verseker ook in mindere of meerdere mate dat die inligting wat na die publiek deurgegee word, min of meer betroubaar is: dit moes darem deur een of ander proses van redigering en evaluasie gegaan het.

      Die Internet het die koste van massa-kommunikasie afgebring na 'n vlak waar omtrent enige-iemand dit kan bekostig om vir die massas te publiseer. Om 'n (vals) viruswaarskuwing die kuber-ruimte in te stuur, is so maklik as om die boodskap te tik, alle adresse in jou epos-adresgids te kies en send te druk.

      Saam met die laer koste van massakommunikasie het baie van die tradisionele gehaltebeheer-hekwagte in die slag gebly. Omdat 'n webwerf deur 'n individu ontwerp, gepubliseer, onderhou en bekostig kan word, is daar nie die nodigheid vir die burokrasie van 'n organisasie nie. Geen gehaltebeheer word dus ingebou by die uitgewer of drukker wat nie hul geld op 'n swak produk wil waag nie. 'n Webwerf kan dus effektief alle hekwagters ontduik. Kreatiwiteit ken geen perke nie, maar daar is ook geen waarborge dat dit wat gepubliseer word smaakvol, bruikbaar en akkuraat is nie. 2

      Verskillende mense en instansies publiseer op die Web met verskillende motiverings: 'n webwerf oor velkanker kan die tuisblad van 'n kanker-laboratorium wees met volledige dokumentasie en bronne, of dit kan 'n geselsforum wees waar lyers hul (leke)-opinies en rate aan ander uitdeel. Dit kan ook die webwerf van 'n maatskappy wees wat probeer om hul sonprodukte te verkoop.

      Die Wêreldwye Web, net omdat dit vir baie mense sinoniem met tegnologie is, is beslis geen waarborg vir akkuraatheid nie. Burbules en Callister 3 definieer die term hiper-lees om aan te dui dat Internet-gebruikers nie net moet lees nie, maar wát hul lees terselfdertyd moet evalueer en in konteks met die webwerf moet plaas; om terselfdertyd die geloofwaardigheid te toets, en te lees wat (of wie) op die webwerf afwesig is.

      Die doel van hierdie dokument is om joernaliste bewus te maak van die moontlikheid dat alles wat hulle op die Wêreldwye Web lees, nie noodwendig die waarheid is nie. Dit wil webgebruikers leer om skepties te wees oor die gehalte van die inligting wat op die Wêreldwye Web beskikbaar is en 'n stel riglyne vir hiperlees daarstel. Vaste reëls is onmoontlik en daar sal seker altyd uitsonderings wees. Die reëls van die 'hekwagters' van die voor-Internet-era kan egter aangepas en toegepas word om elke mens sy eie hekwag te maak. Niemand mag dalk weet dis 'n hond met wie jy op die Internet te doen het nie, maar daar ís metodes om uit te vind of hy hondekos bestel en motors jaag wanneer hy níe publiseer op die Internet nie.


    3. Die Aard van die Probleem
    4. As 'n joernalis 'n opdrag kry om 'n storie te skryf oor globale verhitting, of 'n onderhoud moet gaan voer met die persoon wat die nuwe soort soja-jogurt ontwikkel het, of 'n rekenaartydskrif vra haar om 'n storie te skryf oor die nuwe Intel-mikroverwerkers, dan is die Wêreldwye Web die maklikste plek om agtergrond-inligting oor die onderwerp te kry en om aansprake van mense en maatskappye te bevestig of te toets.

      Joernaliste in die Verenigde Koninkryk maak deesdae al meer gebruik van die rykdom van inligting wat op die Internet beskikbaar is, vir hul navorsing vir glans- of ondersoekende artikels.4 Die Verenigde Koninkryk sal geen uitsondering wees nie. Dis maklik om inligting op die Wêreldwye Web te kry. Waar anders kan jy - deur net met 'n muis te kliek - databasisse vanoor die hele wêreld oor 'n onderwerp deursoek, spesialismenings én lekemenings daaroor lees, alle kante van die saak ondersoek en boonop nog die geleentheid kry om die saak met ander belangstellendes te bespreek? Die probleem van die Inligtingsera is nie die beskikbaarheid van inligting nie, maar die oordosis ongekontroleerde inligting.

      Rice 5 som die situasie goed op:"We face a phletora of documents placed on the Web without the screening of publishers, selectivity of librarians and bookstore buyers, nor the structure of the cataloging process.

      We are on our own to locate information, determine its applicability, and evaluate its credibility in an environment without governance nor overseers."

      Ongeveer 391 miljoen mense het teen Desember 2000 toegang tot die Internet gehad. 6 Enige-iemand met die regte programmatuur en toegang tot die Internet kan web-bladsye op die Internet publiseer. Sommige diensverskaffers (soos Geocities ) verskaf selfs gratis webruimte vir tuisblaaie aan wie ook al daarom vra. Professors, maatskappye wat hulle produkte wil verkoop, studente en huisvrouens kan ewe maklik artikels op die Wêreldwye Web publiseer.

      Die akkuraatheid van die gepubliseerde bewerings of die kwaliteit van die voorlegging word nie noodwendig gekontroleer nie. Dokumente word gekopieer en met foute gereproduseer - soms per ongeluk en soms doelbewus. 'n Hele webwerf kan gekopieer en met veranderinge weer gepubliseer word as kompetisie vir die oorspronklike webwerf, om mense te mislei of as advertensie vir jou eie produk. www.whitehouse.net is 'n baie oortuigende webwerf van die Amerikaanse Wit Huis, en Internetseilers sal maklik mislei word om die inligting daar te glo - hopelik net totdat hulle op die Bureau for Missing Socks-skakel gekliek het. (Die werklike adres vir die Amerikaanse Presidensiële webwerf is www.whitehouse.gov.) Alle misleidings word egter nie so duidelik gemerk nie.

      'n Joernalis wat nog nie geleer hiperlees het nie, sal dus nie weet of dit Jan Rap se persoonlike mening oor die genesende effekte van soja-jogurt is, en of Jan Rap dalk 'n mikrobiologie-professor is met jare se soja-ondervinding nie.

      Onlangs het Maretha Maartens in die strik getrap toe sy inligting van 'n webwerf (the ONION) onvoorwaardelik geglo het en 'n bohaai rondom Harry Potter en satanisme opgeskop het. 7


    5. Die Bestek van die Studie
    6. Die terme Internet en Wêreldwye Web word deur die meeste mense as sinonieme gebruik, maar eintlik is die Wêreldwye Web net 'n klein (hoewel die sigbaarste en seker die bekendste) onderafdeling van die Internet. Hierdie dokument probeer net kriteria gee vir inligting wat as Web-bladsye gepubliseer is (bladsye waarvan die Web-adres met http:// begin). Ander dele van die Internet soos nuusgroepe, epos, bulletinborde, forums, poslyste en geselskamers kan ook nuttige inligting verskaf, maar die kriteria om die kwaliteit van sodanige inligting te evalueer, val buite die bestek van hierdie studie. Die riglyne wat hier bespreek word, kan egter, met die nodige aanpassings en gesonde verstand, gebruik word om inligting vanaf ander Internet-bronne ook te evalueer.

      Die riglyne in hierdie dokument verwys na enige tipe webdokument (kommersieel, opvoedkundig, akademies, persoonlik of organisatories). Die klem val op die gehalte van wetenskaplike en tegniese inligting op die betrokke webwerwe, maar dit kan sonder veel veranderinge op enige tipe inligting wat vanaf die Wêreldwye Web verkry word, toegepas word. Gesonde verstand (common sense) moet gebruik word om te bepaal of 'n kriterium soos die ouderdom van inligting vir navorsing oor die antieke kulture net so belangrik is as wat dit is vir inligting oor nuwe rekenaartegnologie. (Nuwe opgrawings kan nuwe idees oor antieke geskiedenis oplewer; die gebruiker moet egter self besluit hoe belangrik 'n bepaalde riglyn is.)

      Die dokument verskaf slegs riglyne. Weens die wollerige aard van die definisies van betroubaarheid en geloofwaardigheid van web-bladsye, is dit onmoontlik om 'n vaste stel reëls neer te lê om te waarborg dat 'n dokument betroubaar en geloofwaardig is. 'n Webdokument kan aan byna al die riglyne voldoen en steeds onsin wees. Of dit kan 'n pot goud wees, maar as gevolg van die swak aanbieding, die afwesigheid van die skrywer se naam en kontakbesonderhede of 'n obskure domeinnaam, word dit nie erken nie. Die belangrikste bly maar dat die gebruiker sy eie gesonde verstand sal gebruik. Hoe meer hy met die Web te doen het, hoe beter sal hy tussen koring en kaf kan onderskei.


    7. Die Metode
    8. Die dokument bevat geen nuwe navorsing nie, maar is eerder 'n stel common-sense-reëls wat saamgestel is na aanleiding van wat ander bronne oor web-betroubaarheid sê. Riglyne wat deur biblioteke gebruik word om te besluit watter boeke om aan te koop en riglyne wat uitgewers gebruik om te besluit of hulle 'n boek gaan uitgee, is, saam met vele gesprekke met Internetgebruikers (onder andere 'n fisioterapeut en 'n dokter), eposboodskappe van Internetgebruikers en Webforumgesprekke oor die onderwerp, gebruik om die kriteria saam te stel. Hierdie dokument is dus 'n samevatting van wat ander mense (veral Webgebruikers) as 'gesonde verstand' beskou. Idees is aangepas om dit op webwerwe met wetenskaplike inhoud van toepassing te maak.


    9. Die Teikengehoor
    10. Wetenskap en tegnologie verander so vinnig dat dit nie realisties is om van 'n wetenskap- of tegnologiejoernalis te verwag om op hoogte met alle nuwe ontwikkelings te bly nie. By kleiner koerante is die wetenskap-joernalis dikwels ook die sportverslaggewer en ook die nuusredakteur. Om in te teken op 'n menigte vaktydskrifte wat moeilik lees en wat moontlik net iewers op 'n rak gaan lê en stof vergader, is nie die oplossing nie. Die maklikste manier om op hoogte te bly met die vinnig veranderende wêreld van tegnologie, is deur middel van die Wêreldwye Web - mits die joernalis bewus is van die tekortkominge en slaggate.

      Selfs joernaliste wat verkies om bronne by 'n biblioteek te gaan soek, kan die web gebruik om uit te vind wát hulle in die biblioteek moet gaan soek. Hierdie dokument is dus in die eerste plek vir wetenskap-joernaliste wat die Web gebruik om akkurate inligting (en alle kante van die saak) oor 'n onderwerp te soek.

      Hoewel die voorbeelde almal op wetenskaplike en tegniese webblaaie konsentreer, kan joernaliste in enige vakgebied baat by die idees in hierdie dokument. Die nodige aanpassings moet gemaak word omdat kriteria vir wetenskaplike inhoud dalk nie presies dieselfde is as vir ander tipes inhoude nie. Daar is egter heelwat skakels na ander webwerwe wat gereedskap verskaf om webwerwe met algemene inhoud te evalueer.

      Studente wat die Web gebruik vir navorsing, kan ook hierdie riglyne gebruik om die geloofwaardigheid van hul bronne te evalueer.

      Enige web-gebruiker moet weet dat die inligting van die web af nie sommer voor die voet geglo moet word nie. Soms is die liggelowigheid van Web-gebruikers net snaaks of 'n verleentheid. Soms is dit irriterend en kos dit geld (soos wanneer liggelowiges epos-bandwydte gebruik om viruswaarskuwings rond te stuur waarvoor ander moet betaal om af te laai) maar dit kan ook gevaarlik wees as gebruikers die verkeerde raad kry oor hoe om byvoorbeeld brandwonde te behandel.

      Nuwe Web-gebruikers, veral dié wat nog nie die kuns van hiperlees bemeester het nie, sal dus kan baat by hierdie dokument.



    carine@ananzi.co.za
    Gemaak met Notepad deur carine op 29 Desember 2000