Verkeerde raad oor rekenaar- en programmatuur-pleisters, -kortpaaie en aanpassings kan 'n maatskappy tyd en geld kos. Mense preek dikwels dìt waarvan hulle weet, en nie wat noodwendig die beste oplossing is nie.
Die geloofwaardigheid van die inhoud van 'n webwerf kan gemeet word aan die volgende:
'n Joernalis wat 'n storie wil skryf oor 'n onderwerp waarvan hy min weet, sal nie die feite op sigwaarde kan evalueer nie.
Die logika van die webwerf kan egter 'n aanduiding gee van die betroubaarheid daarvan. Vrae wat kan help met die bepaling
van die logika van 'n webwerf, is onder andere:
- Waarop baseer die skrywer sy argumente?
- Maak hy aannames?
- Is daar wanopvattings wat in meer as een ander betroubare bron as wanopvatting uitgewys is?
- Is die skrywer emosioneel of rasioneel?
'n Joernalis wat 'n storie wil skryf oor metodes om die ouderdom van klippe te bepaal, kan byvoorbeeld nie van webwerwe gebruik maak wat aanvaar dat die Bybel in alle gevalle woordeliks akkuraat is nie. 'n Webwerf soos AnswersInGenesis, wat verwag dat Wetenskap aangepas moet word as dit van die Bybel verskil, se logika is onder verdenking.
Is die argument gegrond op idees wat reeds as verkeerd bewys is, of wat algemeen nie in wetenskapkringe aanvaar word nie? Beïnvloed die verkeerde veronderstellings die eindresultaat? Het die skrywer sy eie navorsing gedoen? Aanhangers van die kreasionisme-teorie doen dikwels nie hul eie navorsing nie, maar praat net ander skrywers oor die onderwerp na. Hulle het dikwels nie 'n idee van wat aangaan nie en maak dus 'n aanspraak op die leser se emosies in plaas van sy brein, soos wat Ken Lewis doen in TheBigLie.
TheBigLie se dubbele standaarde op die definisie van wetenskap plaas die logika sterk onder verdenking: Evolusie kan nie geruik, gesien, geproe, of gevoel word nie, daarom is dit nie 'n wetenskap nie. Skepping kan egter wetenskaplik bewys word, want dit staan in die Bybel. Die ruik, sien, hoor en voel-kriteria vir wetenskap om Wetenskap te wees, is nie meer van toepassing nie. Die uitroeptekens in byna elke sin dui ook op 'n emosionele, eerder as logiese redenering. ("They were not there, they did not witness the big bang theory or man revolving from a fish or monkey into a man!!!" (sic) asof Moses - wat volgens Lewis die boek Genesis geskryf het - die eerste ses dae van die Skepping daar was om te kon ruik, sien, hoor en voel.) Vergelyk dit met NewScientist se rasionele en onbevooroordeelde ondersoek na die geskiedenis van kreasionisme in die Verenigde State.
Webwerwe wat ander skrywers en teorieë afskiet sonder om te verduidelik waarom, en argumente soos dit is baie duidelik dat die ander ou verkeerd is sonder om die foute uit te wys, is twyfelagtig.
Die argumente wat deur die plat-aarde-vereniging aangevoer word as 'bewyse' dat die aarde plat is, lyk oortuigend. Name, plekke en datums van publikasies en eksperimente word genoem. Argumente soos dat gravitasie 'n persoon op die Noordpool 'af'trek, en die persoon by die Suidpool dus ook 'af'getrek moet word en sou afval as die aarde rond is, is egter heeltemal onlogies.
Oppas vir statistieke. Statistici weet dat byna enige-iets daarmee bewys kan word. Die broodstatistieke mag heeltemal akkuraat wees, maar dit bewys steeds nie dat brood kinders dommer maak, mense doodmaak of kriminele neigings veroorsaak nie.
Sirkelargumente (wat dít wat bewys moet word, aanvaar) is ook nie aanvaarbare logika nie. Wetenskapjoernaliste met 'n agtergrond in logika, bewysvoering of wiskunde behoort nie probleme te hê om die logika van 'n webwerf te ondersoek nie.
'n Objektiewe bron is een wat realisties is en probeer om alle kante van die saak sonder vooroordele te stel. Die trant van die dokument kan leidrade oor die objektiwiteit van die bron gee. Is dit toepaslik vir 'n akademiese bron om krities, humoristies of ernstig te wees? Is die dokument redelik? Of verskil dit van feite wat algemeen deur wetenskaplikes aanvaar word? Aansprake soos geen newe-effekte en geheel en al nie-giftig klink nie baie objektief nie. 'n Webblad wat aanval, probeer oortuig of emosioneel is, klink na sensasie eerder as na wetenskap.
Inligting wat voorsien word as 'n publieke diens, het 'n beter kans om onbevooroordeeld te wees as inligting wat op 'n kommersiële werf aangebied word (maar nie noodwendig nie).
Die onderskeid tussen advertensies (wat kan help om die bron te finansier) en inligting behoort duidelik te wees. Persoonlike opinie en voorkeure behoort tot die minimum beperk te wees, en die onderskeid tussen inhoud en opinie behoort duidelik te wees.
'n Webwerf wat ander sienings behalwe sy eie sonder meer verwerp, bewyse van stereotipering, en waarskuwings teen dreigende sameswerings of vervolgingswaan behoort deeglik ondersoek te word voordat dit as bron gebruik kan word. Derich Gardiner van Radio Jakaranda het die storie oor NASA se kullery met die maanlanding in 1969 geglo en in Oktober 2000 uitgesaai sonder om die storie by NASA se eie webwerf te bevestig. As die aanhalings in die webdokument bronne noem, kan dit nageslaan word om te sien of die aanhaling binne konteks was.
Is die inligting moontlik en waarskynlik? Stories dat die VIGS-virus doelbewus ontwerp is om die swart bevolking van Afrika onder beheer te hou, is vergesog en moet deeglik ondersoek word.
Is dit moontlik dat die storie 'n draakstekery of satire is? Is daar oordrywing of opgeblase argumente? Die artikel oor hipokondria en die Internet is 'n duidelike oordrywing van die simptome daarvan. Die plat-aarde-vereniging se webwerf is moontlik ook net satire.
Meer as een bron behoort ondersoek en met mekaar vergelyk te word. Die waarheid is moontlik iewers in die middel van die twee kante van die saak - hoewel dit moontlik is dat een beskouing heeltemal verkeerd is.
As die webwerf godsdienstig of polities is, behoort dit maklik te wees om die partydigheid raak te sien. Ander nie-winsgewende organisasies kan ook vooroordele hê, maar selfs bevooroordeelde webwerwe kan 'n waardevolle bron van inligting wees om alle sienings van die saak te probeer verstaan - mits die leser bewus is van die vooroordele wanneer hy die webwerf besoek.
Ondersteuning verwys na ander skrywers, webwerwe, boeke en agtergrondkennis wat die inligting op hierdie webwerf kan bevestig. Indien dit oorspronklike navorsing was, beteken ondersteuning dat ander bronne na hierdie werf verwys in hul navorsing. As ander kenners op die gebied hierdie bron as betroubaar beskou, is dit goed genoeg vir 'n joernalis om in sy storie te gebruik.
Indien dit sekondêre navorsing was (navorsing gegrond op wat ander mense en bronne sê), moet daar verwysings na die oorspronklike bronne wees. As die bronne goed gedokumenteer is, is dit maklik om die oorspronklike bronne op te spoor en te vergelyk met wat die webwerf sê. Kan die bronne en skrywers gekontroleer word? Is eksperimente herhaal, en was die resultate dieselfde? Waarvandaan kom die statistiek?
Gee die bladsy 'n nuwe perspektief op bestaande bronne? As die bladsy net 'n samevatting, opsomming of kommentaar op ander werke is, is dit beter om die oorspronklike bronne op te spoor. Oorspronklike bronne dra meer gewig as tweedehandse vertellings daaroor. (Sien die hoofstuk oor die oorsprong van die inligting)
Indien daar bewyse is dat die skrywer ander bronne geplagiatiseer het, of ander bronne se idees weergee sonder om hulle as bronne te lys, moet die oorspronklike bronne eerder gesoek, gebruik en aangehaal word.12
Voetnotas en bibliografieë kan addisionele bronne verskaf wat kan help met die kontroleer van die inligting. As daar skakels van hierdie bladsy af na ander webwerwe toe is, gaan kyk na die inhoud en geloofwaardigheid van daardie webwerwe. 'n Betroubare bron sal nie sommer skakels na 'n onbetroubare webwerf toelaat nie. Skakels na ander (relevante) webwerwe oor dieselfde onderwerp wys ook dat die skrywer nie bang is dat ander bronne hom sal weerspreek nie.
Ander bladsye wat na hierdie bladsy toe verwys, demonstreer dat ander webwerwe genoeg vertroue het om hul lesers na hierdie bladsy te verwys. Aanhalings en goeie resensies oor hierdie webblad op ander webblaaie verhoog die bladsy se betroubaarheid.
As die inligting op die webwerf as 'n gedrukte publikasie beskikbaar is, probeer om die gedrukte weergawe in die hande te kry. Druk is 'n stabieler medium as die Wêreldwye Web. Webbladsye word dikwels verander of selfs verwyder; 'n gedrukte weergawe is makliker om weer op te spoor. Bladsynommer-verwysings is ook akkurater as bladsytitelverwysings vir 'n webdokument. Die Web het nie bladsynommer-konvensies nie; dit is dus moeiliker om 'n spesifieke aanhaling weer op te spoor as dit nodig sou wees. 'n Gedrukte weergawe is ook dikwels meer volledig as die weergawe wat op die Web beskikbaar is. Die Web-weergawe word gewoonlik net gepubliseer om die Web-seiler geïnteresseerd genoeg te kry dat hy die boek sal gaan koop.
Bronne wat gebruik word as studiemateriaal is nie noodwendig waar nie, maar die leser het darem die versekering dat die studiemateriaal deur 'n kenner op die gebied saamgestel is en deur een of ander vorm van eweknie-resensensie is omdat die ander personeel in die departement dit sou moes goedkeur.
Hoe vergelyk die webwerf met ander webwerwe oor dieselfde onderwerp? Bevat dit inligting wat nêrens anders beskikbaar is nie? Indien die inligting nuut of vreemd is of in stryd is met ander feite wat as waar aanvaar word, moet ander bronne (waarvan sommige gedrukte media is) gebruik word om die feite te bevestig (of te weerspreek).
Die aard van die inligting en die vakkundigheid van die gebruiker sal bepaal hoe maklik of moeilik dit is om 'n
webwerf se akkuraatheid te evalueer.13 'n Wetenskap-joernalis - een wat in die eerste plek 'n joernalis is en in die tweede plek 'n wetenskaplike - sal meer sukkel om die akkuraatheid van 'n webwerf oor genetiese modifikasie van kos te bepaal as 'n vakkundige wat elke dag daarmee werk.
Sommige tipes inligting - soos instruksies hoe om self 'n kamera te bou - kan aan die inligting self gemeet word. As die instruksies gevolg word, en die kamera kan 'n foto neem, was die instruksies korrek. As die instruksies presies gevolg is en die kamera na 'n paar probeerslae steeds nie werk nie, dan kan daar 'n fout met die instruksies wees.
Ander tipes inligting soos teorieë oor evolusie het nie 'n regte of verkeerde antwoord nie, en dit is moeiliker om akkuraatheid te bepaal. Vrae wat kan help, is onder meer:
- Is die inhoud vaag of baie algemeen?
- Is daar voorbeelde en besonderhede om argumente te staaf?
- Is die inligting konsekwent, of weerspreek die webwerf homself?
- Is die inligting vars? (Kliek hier vir die hoofstuk oor die ouderdom van webwerwe.)
- Waarvandaan kom hierdie inligting? Die bron moet genoem word; kyk of dit opgespoor kan word. Is dit moontlik dat die bron nie werklik bestaan nie? (Kliek hier vir die hoofstuk oor die oorsprong
van die inligting op 'n webwerf.)
- Is byskrifte by kaarte, grafieke en tabelle duidelik? Is daar bronne en datums?
- Word bronne van feitelike inligting genoem?
- Is die webwerf spelversorg en taalversorg? Spel- en taalfoute is 'n aanduiding van slordigheid, wat in die akkuraatheid van feite ook kan deurslaan. (Kliek hier vir die afdeling oor spel- en taalfoute.)
ChristianNewsToday vertel die 'ware' storie oor die Bethlehemster. Datums soos wanneer die ster verskyn het (presies 25 Desember, 2 v.C.) word genoem, maar besonderhede oor waar die inligting vandaan kom, is vaag: "According to astronomers, on December 25, 2 B.C. ... the planet Jupiter came to a stop ..."
'n Geleentheid om foute onder die skrywer se aandag te bring (soos 'n eposadres en 'n uitnodiging), verskaf 'n soort hersien-proses en dui ook daarop dat die skrywer die regte inligting wil hê en op datum wil bly.
Dit is onmoonlik vir een webwerf om alle inligting oor 'n onderwerp te versamel en weer te gee. Wesenlike inligting soos wie die sterrekundiges in die voorbeeld oor die Bethlehemster hierbo is, moet egter nie ontbreek nie. Dit help nie 'n webwerf bestee bladsye daaraan om te verduidelik hoe selfoonradiasie DNA-kettings laat breek, as dit nêrens verduidelik wat die implikasies van 'n gebreekte DNA-ketting is nie. Aansprake soos dit is duidelik dat die ander siening verkeerd is, is onvolledig as die redes vir die verkeerdheid van die ander siening nie verduidelik word nie.
Probeer dink aan 'n teenoorgestelde standpunt as die een wat hier genoem word. Dit maak nie saak as dit nie genoem word nie; die gebruiker moet net bewus wees daarvan dat daar moontlik inligting is wat nie hier genoem word nie - en dan daarvoor gaan soek.
Kliek hier om die hoofstuk oor die ouderdom van die inligting op 'n webwerf te lees.