Huis toe
Opsomming
Indeks
Inleiding
  • Eerste Indrukke
  • Inhoud
  • Ouderdom
  • Oorsprong
  • Doel/Gehoor
  • Gevallestudie
    Gevolgtrekking
    Webwerftipes
    URL's
    Skakels
    Kitskriteria
    Nuttige Wetenskapwerwe
    Bronnelys
    Woordelys


    Spider-web
    "Oh, you might not think I'm pretty,
    But don't judge on what you see,
    I'll eat myself if you can find
    a smarter hat than me."

    - J.K. Rowling (uit 'Harry Potter and the Philosopher's Stone')


    Eerste Indrukke

    Swak publikasies, lae-begroting-pamflette en uitgawes van die ydelheidspers (vanity press - boeke wat op die skrywer se eie onkoste gedruk en versprei word omdat geen uitgewer sy geld daarop wil mors nie) is maklik om te herken aan die lae kwaliteit papier, fotokopieer-drukwerk en swak bindwerk.8

    Sigbare tekens van self-publikasie is moeiliker om op 'n goed-ontwerpte web-blad raak te sien. Die webwerf van die Buro vir Verlore Sokkies lyk nie minder na 'n webwerf as NASA s'n nie. Soos met gedrukte publikasies kan 'n geoefende webgebruiker (soms) die sigbare leidrade van selfpublikasie op webbladsye herken. Die bladuitleg, die kleurskemas, die algemene indruk, selfs die laaispoed van die bladsy help mee om die geloofwaardigheid van die inligting op die webwerf op te bou - of af te breek.

    Onder Eerste Indrukke van die Webbladsy kan die volgende ingesluit word:

    1. Uitleg
      Is dit lekker om na die bladsy te kyk? Is die teks duidelik leesbaar? Hoeveel grafika word gebruik; is die kleurskemas gepas; is die uitleg professioneel?
    2. Gebruikersvriendelikheid
      Hoe maklik is dit om te verdwaal op die webwerf? Weet die gebruiker wat van hom verwag word en hoe om te kry wat hy op die webwerf soek?
    3. Skryfstyl
      Pas die uitleg, skryfstyl en atmosfeer van die webwerf by die gehoor en inhoud?
    4. Spelling en Taalversorging As dit vol spelfoute is, is die waarskynlikheid groot dat niemand dit geproeflees het nie. Inligting is dus moontlik nooit vir akkuraatheid gekontroleer nie.
    5. Laaispoed
      'n Dokument wat vir ewig aflaai, is dalk nie die moeite werd om voor te wag nie.
    6. Beskikbaarheid
      Die betroubaarste inligting is niks werd as dit nie in die hande gekry kan word nie.
    7. 'n Laaste gedagte oor Eerste Indrukke
      Die algemene indruk van die webwerf in geheel help om 'n opinie daaroor te vorm.


    1. Uitleg en voorkoms
    2. Die meeste Internetgebruikers is meer besorg oor die inhoud as die voorkoms van 'n webwerf. Navorsers sal, as die inligting relevant en betroubaar is, die bron gebruik selfs al word dit swak voorgestel.9 Dis egter makliker om inligting op 'n goed ontwerpte webwerf te kry; 'n webmeester wat sy gebruikers respekteer, sal moeite doen om te sorg dat sy webwerf professioneel lyk en maklik is om te gebruik. Skrywers, navorsers of instansies wat nie omgee hoe hul inligting voorgestel word nie, het moontlik nie veel inligting wat die moeite werd is óm oor om te gee nie. 'n Betroubare organisasie of inrigting het gewoonlik die finansies om 'n professionele persoon te huur om die bladuitleg te doen, of die kennis om dit self ordentlik te doen. 'n Swak-ontwerpte webwerf getuig dus dikwels van 'n gebrek aan 'n ondersteunende organisasie, 'n gebrek aan geld (Was daar ook 'n gebrek aan geld toe die navorsing gedoen is? Wás daar navorsing?) en 'n doen-dit-self-mentaliteit. Die inhoud van webwerwe wat deur groter organisasies ondersteun word, is dikwels meer betroubaar omdat daar meer burokratiese stelsels is waardeur die teks moet gaan voordat dit gepubliseer kan word.

      Kwessies oor uitleg en algemene voorkoms van 'n webwerf is persoonlike smaak. Wat een persoon as stylvol en professioneel beskou, sien 'n ander as oordoen of 'onderdoen'. Oormatige grafika, ongepaste ikone en te veel kleure en lettertipes is egter tekens wat alom as kenmerkend van 'n swak ontwerpte webwerf beskou word.

      Everhart10 beskou die volgende as kenmerke van 'n goed ontwerpte webwerf:

      1. Die eerste bladsy (tuisbladsy) van die webwerf gee 'n goeie idee van hoe die werf georganiseer is en watter opsies beskikbaar is.
      2. Die uitleg en kleurskemas volg dieselfde patroon vir al die bladsye van die webwerf.
      3. Die skakels is relevant tot die onderwerp.
      4. Die bedoeling van die ikone is duidelik.
      5. Die lettertipe, styl en agtergrond maak die bladsy duidelik leesbaar.

      1. Die eerste bladsy (tuisbladsy) van die webwerf gee 'n goeie idee van hoe die werf georganiseer is en watter opsies beskikbaar is.
      2. 'n Werf-kaart (site map), inhoudsopgawe, kieslysstelsel of soekfasiliteit maak dit makliker vir gebruikers om die inligting waarna hulle soek, op te spoor. Dit help dalk nie om die kwaliteit van die inligting te bevestig nie, maar hoe makliker 'n webwerf is om te navigeer, hoe meer gebruikers sal daar wees. Die waarskynlikheid om iemand op te spoor wat wel hierdie webwerf gebruik het, hierheen verwys het of dit geresenseer het, is groter as vir 'n gebruikersonvriendelike webwerf. Hoe meer gebruikers daar is, hoe makliker word dit dus om die betroubaarheid van die bron te bepaal. As die bron hom eers as betroubaar bewys het, kan hierdie tipe webwerwe geboekmerk word vir latere gebruik omdat dit maklik is om inligting hier op te spoor.

      3. Die uitleg en kleurskemas volg dieselfde patroon vir al die bladsye van die webwerf.
      4. Die agtergrond behoort onderdruk te wees en die kleur daarvan moet by die kleur van die teks en skakels pas sodat die teks maklik gelees kan word. As al die bladsye van die webwerf uniform uitgelê is, is dit vir die gebruiker makliker om te weet watter inligting waar op die webbladsy verwag kan word. 'n Kieslys is byvoorbeeld altyd links bo, en die naam van die skrywer en datum van publikasie altyd heel onder. Uniforme uitleg bevestig ook die eienaarskap van die webwerf. As die uitleg van die webwerf verander, weet die gebruiker dadelik hy is nou besig met 'n eksterne skakel en nie meer op dieselfde webwerf nie. Watermerke op die agtergrond kan bevestig dat die domeinnaam en die organisasie by mekaar pas.

        Psigedeliese kleure, teks wat moeilik lees en niksseggende grafika laat 'n webwerf geloofwaardigheid inboet. http://athena.louisville.edu/~brpoun01/pountheory.html, 'n projek vir 'n nagraadse kursus in Engels, is 'n voorbeeld van so 'n bont webwerf. Die bont kleure maak die teks moeilik om te lees en laat dit onprofessioneel lyk. Elke webbladsy op die werf lyk anders. Die hoeveelheid moeite wat die skrywer met die navorsing gedoen het, word bevraagteken deur die swak uitleg. Vergelyk dit met die webwerf van die eksploratorium by die Universiteit van Pretoria: die bladsye van die webwerf lyk almal dieselfde.

      5. Die skakels is relevant tot die onderwerp.
      6. Irrelevante skakels mors die gebruiker se tyd. Gebruikers wat betaal per tydseenheid aanlyn, of per aantal grepe data wat oor die Internet afgelaai word, wil nie betaal vir inligting wat hulle nie wil hê nie. Die gebruiker kry die indruk dat die webmeester of skrywer sy vak swak ken as hy nodig het om die bladsy met irrelevante skakels vol te maak.

      7. Die bedoeling van die ikone is duidelik.
      8. Oulike ikone, interessante agtergronde, mooi lettertipes, grafika en animasies verander nie 'n twyfelagtige bron in betroubare inligting nie. Die teenoorgestelde is eerder waar: te veel verskillende lettertipes, kleurskemas en agtergronde is dikwels 'n aanduiding dat die webmeester so pas ontdek het hoe om met kleur, lettergroottes en effekte te speel. Dit getuig dus van 'n gebrek aan ondervinding. Dis ook soms 'n poging om vervelige teks te probeer opkikker of te laat lyk of dit meer om die lyf het.

        Grafika, en veral animasie, word dikwels by 'n webwerf gevoeg ter wille van versiering of om die eentonigheid van teks te onderbreek. As 'n stuk grafika niks met die teks te doen het nie, moet 'n vraagteken by die inhoud geplaas word. Die ikone moet by die styl van die bladsy pas; prentjies van landsvlae en outydse motors pas nie by 'n webwerf waar akademici byvoorbeeld die voor- en nadele van geneties gemodifiseerde kos bespreek nie.

      9. Die lettertipe, styl en agtergrond maak die bladsy duidelik leesbaar.
      10. Beginner webontwerpers verander lettertipes en agtergronde net omdat hulle kan. Die webgebruiker het nie tyd om krulletjieskrif teen 'n bont agtergrond te ontsyfer nie. As die bladsy nie leesbaar is nie, mors die webmeester die gebruiker se tyd. Vergelyk die agtergrond en leesbaarheid van http://www.tradepage.co.za/sta/stepg3.htm met die agtergrond en leesbaarheid van die webwerf van die Vereniging vir son-energie in Suidelike Afrika.



    3. Gebruikersvriendelikheid
    4. 'n Gebruikersvriendelike webwerf is logies uitgelê, maklik om te gebruik, goed georganiseer,verdeel in logiese onderafdelings, en laai vinnig.

      Skakels is duidelik herkenbaar, duidelik gemerk en logies gegroepeer. 'n Gebruiker het nie nodig om te raai waarheen 'n skakel hom neem nie, en hoef nie onnodig te wag vir bladsye om af te laai wat hy nie wou gehad het nie. Elke ondersteunende bladsy het 'n skakel terug na die tuisblad sodat die gebruiker nie 'verdwaal' op die webwerf nie. Die hoeveelheid skakels waarop 'n gebruiker moet kliek om by die inligting waarna hy op soek is, uit te kom, is tot 'n minimum beperk, want elke keer as 'n skakel gekliek word, moet die gebruiker wag dat 'n nuwe bladsy afgelaai word. Skakels binne groot bladsye kan help om die inligting waarna die gebruiker op soek is, vinniger op te spoor, in plaas van dat hy deur al die teks moet lees. Groot bladsye neem baie lank om af te laai; 'n goed ontwerpte webwerf sal dus groot bladsye verdeel in kleiner eenhede wat vinniger aflaai. 'n Opsie om die hele dokument af te laai om van lyn af te werk of te druk, is beter as wanneer die gebruiker elke keer 'n klein eenheid moet aflaai, druk, en weer op 'n ander eenheid moet kliek om af te laai en te druk. Dit wys dat die ontwerper die webbladsy ontwerp het met die gebruiker in gedagte.

      Iemand wat met 'n 640 X 480 monitor na die webwerf kyk, behoort nie nodig te hê om die skerm met die muis na regs te rol (scroll) om al die teks te lees nie. Dit is makliker om inligting te absorbeer as die inligting nie eers ontsyfer hoef te word nie.

      Die gebruik van rame is, soos kleur, lettertipe en uitleg, ook 'n kwessie van smaak. Sommige mense meen dat rame 'n webwerf meer professioneel laat lyk. Alle blaaiers (browsers) kan egter nie rame hanteer nie. Nuwer webgebruikers wat nie ondervinding met rame het nie, kan baie gefrustreerd raak as hulle 'n bladsy geboekmerk het net om, wanneer hulle daarna terugkeer, die oorspronklike rame met die eerste gelaaide webbladsye daar te sien. Die verkeerde raam se inligting kan gedruk word as dit die aktiewe raam op die gebruiker se blaaier is. ('n Voorbeeld van 'n webbladsy met rame is hier te sien.)

      'n Webmeester wat sy bladsy ontwerp met die gebruiker se tyd, geld en gerief in gedagte, se webbladsy is maklik om te gebruik en mits die inhoud die moeite werd is, sal mense daarheen terugkeer. Hoe meer mense 'n webwerf besoek, hoe beter is die waarskynlikheid dat foute opgespoor en reggestel kan word.


    5. Skryfstyl
    6. 'n Webwerf wat beweer dit is vir kinders, behoort nie hoogdrawende taal en vakterme te gebruik sonder om die terme te verduidelik nie. 'n Webwerf wat beweer dit skryf vir deskundiges, moet nie sy gebruikers beledig deur 'af' te praat na hulle toe nie. As die skryfstyl en die gehoor nie by mekaar pas nie, verloor die webwerf geloofwaardigheid: as die webmeester nie eens met iets so klein soos vir wie hy sê hy publiseer vertrou kan word nie, kan die inligting wat dit bevat, ook nie sonder meer vertrou word nie.

      Die algemene toon van die skrywer moet in ag geneem word: is die skrywer sarkasties, humoristies, kalm of aanvallend? Bly die toon dwarsdeur die dokument dieselfde? Waarom of waarom nie? Is dit moontlik dat die hele webwerf net 'n spottery is? Vae terme soos "studies bewys" met geen verwysing na watter studies nie, 'n klomp uitroeptekens en hoofletterskrif, en 'n Dis alles 'n sameswering-siening behoort waarskuwingstekens te wees dat die inligting op hierdie webwerf nie vertrou kan word nie.

      Akademiese artikels in akademiese tydskrifte is gewoonlik in teks-formaat. Tesisse, skripsies en voorleggings word dikwels in die oorspronklike tesis-formaat op die Wêreldwye Web oorgelaai. Hierdie tipe artikels bied dikwels nuwe navorsing en is gewoonlik déúr die proses van kontrole vir inhoud, akademiese waarde en korrektheid. Die inligting op sulke tipe webwerwe kan dus vertrou word - mits die gebruiker die vaktaal verstaan, want dit word gepubliseer vir vakkundiges.

      Akademiese artikels kan (dikwels) herken word aan die eenvoudige wit agtergrond, gebrek aan kleurvolle grafika, en lettertipe wat regdeur die dokument dieselfde bly. Die hele webwerf gee die indruk van 'n getikte bladsy. Hierdie tipe webwerwe het gewoonlik 'n bibliografie, voetnotas, die skrywer se naam en akademiese kwalifikasies. Advertensies vir gewilde gebruiksartikels is afwesig. Nina Kim se honneursstudie World Wide Web Credibility: What effect do advertisements and typos have on the credibility of web page information? is 'n voorbeeld van so 'n webwerf.


    7. Spelling en Taalversorging
    8. Kim noem in haar studie 11 dat tipografiese foute en taal- en spelfoute gebruikers laat twyfel in die geloofwaardigheid van 'n webwerf. 'n Dokument wat vol spel- en taalfoute is, wek die indruk dat die skrywer daarvan nie veel moeite met die dokument gedoen het nie. Dit volg dat die skrywer ook nie veel moeite gedoen het om die akkuraatheid van die inhoud te bevestig nie. Die waarskynlikheid dat die dokument deur een of ander vorm van redigering of resensering is, is ook maar skraal: iemand wat die dokument vir feitelike foute gekontroleer het, sou ook tik- en spelfoute raakgesien het. Die tik- en taalfoute op TheBigLie se webwerf laat dit geloofwaardigheid verloor.


    9. Laaispoed en programmatuur
    10. 'n Bladsy wat stadig aflaai, is irriterend vir 'n joernalis wat betroubare inligting moet hê en terselfdertyd sperdatums moet haal. 'n Webontwerper kan baie doen om te verseker dat 'n bladsy vinniger van die bediener op die gebruiker se rekenaar aflaai. Grafika, omdat dit meer geheue beslaan as teks, laai stadiger as teks af. Grafika op 'n webdokument moet dus nodig en relevant wees, en nie net vir versiering of om die bladsy vol te maak nie. Onnodige prentjies en animasies trek die aandag van die inhoud af. Dis moontlik doelbewus so gedoen om die swak inhoud weg te steek of op te kikker.

      Grafika kan as duimnael-prentjies (thumbnail-images) in plaas van volgrootte prentjies op die webwerf geplaas word. Die gebruiker sien net 'n klein prentjie, en eers wanneer hy daarop kliek, word die volgrootte prentjie beskikbaar gestel.

      Die dokument kan soms net heeltemal te veel kode bevat. Groot dokumente kan in kleiner eenhede opgedeel word wat vinniger aflaai. 'n Swak ontwerp kan veroorsaak dat 'n dokument baie onnodige kode bevat wat net geheuespasie opneem en niks doen nie. Looneytunes Teaches the Internet laai baie stadig af omdat dit baie grafika bevat. Die bladsy kan egter nie, as gevolg van die hoeveelheid grafika, afgeskiet word nie, want 'n webwerf vir kinders regverdig baie grafika.

      Webwerwe wat stadig aflaai, kan 'n aanduiding wees van stadige (ou) web-bedieners of oorlaaide bedieners. As 'n maatskappy kostes moet besnoei op hul bedieners, dui dit daarop dat dit 'n baie klein maatskappytjie of selfs 'n privaatpersoon is. Die gebruiker moet dus meer skepties wees teenoor hierdie soort inligting, as teenoor inligting vanaf 'n vinniger bediener. Die teenoorgestelde is egter weereens nie noodwendig waar nie. 'n Vinnige bediener kan 'n aanduiding van 'n suksesvolle besigheid wees - een wat 'n item aan jou probeer verkoop deur die (bevooroordeelde) inligting wat hulle op hulle webwerf beskikbaar stel.


    11. Beskikbaarheid van die Webwerf en Inligting
    12. Die betroubaarste inligting help nie veel as die webwerf nooit beskikbaar is om na die inligting te gaan kyk nie. 'n 404-fout (webwerf nie beskikbaar nie - soos hierdie een) kan 'n aanduiding wees dat die webmeester besig is om nuwe inligting op die webwerf te laai. As die fout egter te gereeld voorkom, is dit eerder 'n geval van 'n web-bediender wat dalk oud is, gereeld aandag nodig het of omval, of 'n webmeester wat nie genoeg vir sy webwerf omgee om te sorg dat dit beskikbaar vir sy gebruikers is nie.5

      Webwerwe wat 'n gebruiker vra om te registreer of betaal, is nie noodwendig meer betroubaar as gratis webwerwe nie. Dele van betaal-webwerwe is soms gratis. As 'n gebruiker moet registreer met 'n wagwoord, is dit nòg 'n wagwoord wat in 'n netwerk-wêreld vol wagwoorde onthou moet word. Dit is nie noodwendig sleg nie; net tydrowend (en irriterend) as 'n wagwoord vergeet word en jy nóú op die webwerf moes gewees het.

      Die gebruik van koekies deur webwerwe raak al hoe meer algemeen. Sommige netwerkadministrateurs beskou koekies as 'n sekuriteitsrisiko, en netwerke word soms só opgestel dat rekenaars nie koekies kan aanvaar nie.

      Is daar 'n aanbeveling van watter blaaier om te gebruik vir die beste resultate? As die gebruiker nie die blaaier het nie - of spesiale sagteware of 'n klankkaart nie - hoeveel sal hy mis? Is die data in 'n formaat wat die gebruiker kan lees? .pdf-lêers het byvoorbeeld Acrobat Readernodig om dit te lees. Is daar 'n skakel na 'n webwerf waar inpropprogramme (plug-ins) of kykprogrammetjies (viewers) afgelaai kan word wat nodig is om alles op die webwerf te sien?


    13. Ten Slotte...
    14. Alhoewel eerste indrukke dikwels mislei, help dit tog om 'n algemene idee van die webwerf te vorm voordat die werklike ontleding van die webwerf begin. 'n Swak ontwerpte webwerf kan dui op die moontlikheid van self-publikasie, maar dit is nie noodwendig so dat 'n goed ontwerpte webwerf dui op goeie inhoud nie. Goeie webontwerp maak nie die inligting betroubaar nie. Min wat die moeite werd is om te sê, kan weggesteek word met goeie ontwerp. Die gebruiker moet skepties bly oor die inhoud van die webwerf totdat die ander kategorieë ook ondersoek is. Die ander oorwegings soos inhoud, ouderdom, oorsprong en doel-gehoor van die webwerf behoort belangriker te wees.

      Kliek hier om die hoofstuk oor die Inhoud van 'n webwerf te lees.


    carine@ananzi.co.za
    Gemaak met Notepad deur carine op 29 Desember 2000