Tuisbladsy              
 
  Balkie Nuut Jamie Martie Werkskole

Publikasies

e-pos: martie@storiewerf.co.za

terug na publikasies

Skryfboeke

Prenteboeke

Kinderboeke

Jeugboeke

Kinderboeke

DIE BALKIEBOEK deur BALKIE soos vertel aan MARTIE PRELLER

(PRYSWENNER: Alba Bouwerprys en ATKV-Kinderboektoekenning)

(2000: HUMAN & ROUSSEAU) 

ILLUSTRASIES (SWART EN WIT): ELIZABETH PULLES



'n Balkie is 'n Balkie is 'n Balkie. Daar is maar EEN soos hy (genadiglik!). Balkie maak soveel bladsye vol as wat hy kan met sy baie spesiale stories. Soos hy die wêreld sien. Dis vir kinders van 3-99. Balkie is die ewige kind, al is hy bietjie harig.

HULDINGSWOORD deur Prof. Louise Viljoen gelewer tydens die oorhandigingsfunksie van die ALBA BOUWERPRYS vir Kinderlektuur in Oktober 2001.

Martie Preller het haar sedert die publikasie van haar eerste werk in 1990 uitsonderlik onderskei as skrywer van kinder-en jeugverhale. Sy het haar bewys as 'n skrywer wat met gemak vir verskillende kategorieë kinders kan skryf, vanaf verhale vir heel jong kinders tot by die meer gesofistikeerde werke vir ouer kinders.

Sy is reeds twee keer vereer met 'n Sanlamprys vir Jeuglektuur (vir Anderkantland in 1994 en In die tyd van die Esob in 1996), het ook twee ATKV-Kinderboektoekennings ontvang (vir Daar's 'n spook in my kas en Jy en Toetenkat, beide in 1996) en die C P Hoogenhout-medalje vir Anderkantland in 1996.

Die Akademie se Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur in die kategorie vir kinders 7-12 jaar word aan haar toegeken vir Die Balkieboek. Hierdie sjarmante kinderboek waarvoor Preller bekroon word, het gegroei uit 'n reeks stories oor 'n karaktertjie met die naam Balkie wat maandeliks in 'n vrouetydskrif verskyn. Die gewildheid van hierdie stories het geblyk uit die groot hoeveelheid bewonderaarspos wat ontvang is van kinders wat hulle volkome ingeleef het in die verhale.

Dit het uiteindlik gelei tot die bundeling van 'n sewetal verhale in Die Balkieboek. Die gewildheid van hierdie verhale het waarskynlik te make met die sentrale karakter Balkie wat eintlik net gedefinieer kan word in terme van wat hy nie is nie: hy is nie 'n hond, 'n donkie, 'n beertjie of selfs 'n kameel nie, lees ons. Hy is wel wollerig met 'n lang snoet en is daarby vreeslik nuuskierig en lief vir koekies.

Hierdie vreemde klein wese woon by 'n familie bestaande uit die ma, die pa en drie kinders. Dit is juis sy vreemdheid en ondefinieerbaarheid wat hom so gewild maak by kinders.

Die jong kind wat self nog besig is om sy leefwereld te verken, kan hom identifiseer met hierdie karaktertjie vir wie die wereld soms 'n baie vreemde plek is. Vanwee sy eie verwondering kan Balkie die soort dinge artikuleer wat vir grootmense alledaags is, maar vir die kind nog onbekend voorkom.

Die karakter se wortels lê waarskynlik erens in literere tradisie soos die van die buitestaander en die pikaro wat met ander oe as die gewone na die samelewing kyk en die leser opskerp vir die vreemde, verspotte of wonderbaarlike van die alledaagse.

Die groot oortuigingskrag van die verhale le verder daarin dat Balkie self die verteller in hierdie verhale is en dat hy deur sy vertelstyl algaande 'n vertrouensverhouding met sy klein (en groot) lesers. opbou. Dit is teenoor hulle wat hy bely dat hy bang is vir die donker en spoke, dat hy nie weet wat 'n konsert is nie en dat hy soms geirriteerd raak met die manier waarop mense optree.

Hy lewer voortdurend kommentaar op die verloop van sy eie vertelling soos wanneer hy verwys na die tekeninge wat 'n organiese deel van die teks uitmaak eerder as wat dit bloot 'n dekorasie daarby is. Op hierdie manier lei hy sy jong leser deur die teks en word die gesofistikeerde tegniek van tekstuele selfrefleksie aangepas en van nut gemaak in 'n teks vir kinders.

Die Balkieverhale speel ook in op ander kinderverhale en sprokies deur hulle aan te pas en oor te vertel, nog iets waardeur die jong leser se betrokkenheid by die teks effektief bewerkstellig word.

Balkie se oënskynlike onbeholpe oorvertellings van sprokies soos Jan en die boontjierank, Sneeuwitjie en die sewe dwergies, Hansie en Grietjie, Die gestewelde kat en die Griekse legendes van die herderseun wat die doring uit die leeu se poot moes haal, is effektiewe tegnieke om jong lesers se medewerking aan die teks te stimuleer deurdat hulle die verwringing van bekende patrone herken.

Die meelewing van die kind word verder aangehelp deurdat die teks op effektiewe wyse die spraak van kinders naboots en besonder effektief voorgelees kan word. Dit is dus nie vreemd dat die Balkie-stories reeds verwerk is tot 'n opvoering vir kinderteater nie.

Besonder effektief is ook die wyse waarop Balkie gebruik word om waardevolle lewenslesse aan die jong kind oor te dra. Die manier waarop irrasionele vrees oorkom kan word, waarop 'n mens jouself uit moeilike situasies kan haal deur 'n plan te maak en waarop 'n mens jou kan begin indink in die posisie van jou ouers, word alles op subtiele wyse in hierdie verhale oorgedra sodat hierdie rare klein wese vir kinders 'n rolmodel word.

(Die klein Balkieprentjies kom almal uit 'n ou rooirose uit)

Kliek op die Kalahari prentjie om 'n boek direk van kalahari.net te bestel.