Tuisbladsy | |||||||
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |
|
Balkie | Nuut | Jamie | Martie | Werkskole | |||
Publikasies |
|||||||
|
|||||||
e-pos: martie@storiewerf.co.za |
terug na publikasies |
Skryfboeke Prenteboeke
Kinderboeke
Jeugboeke |
|||||
Skryfboeke |
|||||||
EENDAG WAS DAAR 'n
STORIE! 'n PRAKTIESE STORIEMAAKKURSUS
met sketse deur VIAN OELOFSEN (2003, TAFELBERG) FLAPTEKS Ek, Martie Preller, die skrywer van hierdie boek, het self hierdie stukkie teks geskryf. Dus hoef jy nie te glo wat hier staan nie. Wie glo nou in elk geval alles wat hulle agterop boeke belowe word? Maar ingeval jy nuuskierig is: In hierdie boek bied ek 'n ongewone maar praktiese storiemaakkursus. Dis bedoel vir almal, nie net vir dié wat skryf met die hoop om 'n boek te laat publiseer nie. Want ons is almal skrywers. Ons almal se lewens is stories wat ons daagliks skryf en byskryf. Dis 'n saamdra-boek dié. Dis 'n oor-en-oor-leesboek. Dis 'n wat-dink-jy-boek. Dis 'n wie-is-jy-boek. Dis 'n saampraat-boek. Miskien is dit jou boek. Weet ek waarvan ek praat? Besluit jy maar self. VOORWOORD Hierdie boek is nie net vir voornemende skrywers wat met die oog op publikasie skryf nie. Dis vir almal met 'n liefde vir stories. En ons is almal skrywers, alhoewel net sommige se skryfwerk gepubliseer word. Ons lewens is stories wat ons daagliks verder skryf. Die mens is 'n storiemakende wese. Van die ou-ou tyd af probeer hy/sy sin maak van sy omgewing en van wat gebeur en van homself deur stories te vertel. Stories is drome, stories is moontlike lewens en hulle kan ons enersyds bring by die plek waar ons persoonlike horisonne verskuif word en andersyds by die plek van ons gemeenskaplike menswees. Ons en ander. Ons andersheid, maar ook ons eendersheid. Menswees en stories is onlosmaaklik verweef. We live by stories, we also live in them. One way or another we are living the stories planted in us early or along the way, or are also living the stories we planted - knowingly or unknowingly - in ourselves. We live stories that either give our lives meaning or negate it with meaninglessness. If we change the stories we live by, quite possibly we change our lives. Ben Okri in A Way of Being Free Daar is baie en wonderlike boeke op die mark, elkeen met sy eie wysheid. Elkeen met raad en advies en inligting hoe om jou lewe te verbeter, sin te gee, te verryk of wat ook al. En mens lees, jy soek, jy raak opgewonde oor iets en dan vergeet jy weer en die lewe gaan aan, dikwels onveranderd. Ander se "insig" of "wysheid", dink ek, kan eers iets verander aan 'n mens se lewe as jy dit verander wil hê en as jy die "insig" of "wysheid" werklik beleef. Anders bly dit mooi en dalk wyse en ware woorde, maar dit bly buite jou. Jy absorbeer dit nie werklik nie. Mens moet uiteindelik ervaar om te beleef. Jy moet dit kan voel. Dit moet jou raak en bly raak en jou bybly - totdat jy dit deel van jou maak. Totdat iets in jou verander wat jy verander wil hê. Hierdie boek is 'n reisjoernaal. Aan die een kant is dit my reis as gepubliseerde skrywer: die aanloop tot die publikasie van hierdie boek toe, wat ek geleer het van skryf. Andersyds is dit ook 'n gedeelte van die reis van my lewe; wat ek geleer het van die lewe. Die deel wat ek met jou kan deel, al ken ek jou nie. Maar jy ken my nie, en wat sal dit jou traak waar ek was? Miskien ons eendersheid in ons andersheid? Dalk herken jy plekke in my woorde, weet jy dat jy ook al daar was? En dalk moet jy nog kom by plekke waar ek al was. Want ons reis deur die lewe. En ons is eenders en anders. En soms doen ons dieselfde plekke aan. Onder meer die moerasse van twyfel in jouself. Ken jy daardie plekke? Jou plek sal dalk effens anders as my plek lyk omdat dit jou variasie van die moerasse van twyfel sal wees soos ingekleur deur jou persoonlike ervarings. Hierdie boek is 'n dus reisjoernaal. Daar was baie medereisigers (die mense aan wie die boek opgedra is), maar hulle praat net in my woorde, soos met enige joernaal. Al is daar baie stemme, dit is op die ou end my stem omdat ek die keuses uitgeoefen het wat hier gedruk sal staan. (Wel, ek en die redakteur van hierdie boek!) (sien Deel 2: Lees Meer ) Hierdie boek kan dus 'n verkenningstog wees. Deur die moerasse, tropiese woude, versteende bosse, sandwoestyne, yslandskappe en hoeveel landskappe jy ook al in jouself ontdek. En dis jou persoonlike reis. Jou besigheid. Joune alleen. Die boek bestaan uit drie dele. Deel 1: Gesprek is op 'n manier die sleutel tot die boek, dink ek. Maar besluit self in watter volgorde jy dit wil ervaar. Ek het soveel moontlik "stemme" in die boek ingebring. Ons het almal baie stemme. Hier is 'n paar van myne. Daar is ook ander mense se stemme, in die vorm van aanhalings. Dalk sal jy die plekke waar hulle was, ook herken. Of dink dat jy dit herken. Want op die ou end is die mens nie peilbaar nie, en altyd vol verrassings. En dis waarom stories geen einde het nie. Vian Oelofsen se "stem" is ook hier in die vorm van die sketse. Ek en hy doen saam die weeklikse kinderblad Jamie en . . . Sebastiaan in Vrouekeur. Normaalweg ken skrywers en illustreerders nie mekaar nie. Ek is baie gelukkig om so nou saam met hom en met Elizabeth Pulles, wat Balkie in Rooirose illustreer en ook sy mede-ma is, te kan saamwerk. Dis wonderlik verrykend. En wat het dit alles met jou te make? Jy kan hierdie boek jou reisjoernaal van ons twee se reis maak deur die boek al skrywende met jou te laat gebeur. Jy sal ook baie onsigbare reisgenote hê, maar hulle sal uiteindelik ook net in jou woorde praat. Soos in enige joernaal. Word 'n bewuste skrywer van jouself en jou lewe. Baie mense skryf daagliks in dagboeke. Probeer ook stories maak. Dis onder meer waaroor hierdie boek gaan: hoe om 'n storie te maak. Stories op papier, en dalk die storie van jou lewe. Wanneer jy dagboek skryf, hoor jy net een van jou stemme. As jy begin stories maak, kom daar baie stemme. Dié stemme is dele van jou wat lewe kry as karakters. Luister vir jou karakters. Hulle is jy en ook nie jy nie, want jy het hulle geskep met jou energie. Hulle sal jou baie dinge vertel wat jy nie geweet het nie. En dis alles jou eie sake. Jy kan dit in manuskripvorm na 'n uitgewer of tydskrif stuur. Of jy kan nog stories maak, vir jou kinders vertel, deel met wie jy wil. Of jy kan dit net vir jouself hou. Jy kan doen net wat jy wil, in stories. Die idee van die lewe as 'n reis is natuurlik geensins nuut. Tog is elkeen van ons se reis anders, en ook dieselfde. Ek het hierdie reisjoernaal geskryf soos ek wou. Jy kan joune maak soos jy wil. Doen nes dit vir jou goed voel. Elke mens het sy/haar eie manier van doen en dit is juis die eie manier van doen waar dikwels die heerlikste stories lê. Stories is mos uniek en anders, nes jy! Dit mag dalk 'n goeie idee wees (besluit self!) om jou gedagtes en reaksies in 'n notaboek neer te skryf terwyl jy deur die boek lees en werk. Waarmee stem jy saam? Waaroor verskil jy? Watter gevoelens kom in jou op? Hoe reageer jy op die woorde in die boek? Ek wil dus voorstel dat jy voortdurend boekhou van jou reaksie. Ons het reaksies op alles wat met ons gebeur, wat ons sien of lees. Skryf dit neer. Jou reaksies kan jou joernaal word: jou reis en die bron van jou stories! Kontak tussen mense bring ander perspektiewe en dalk ander insigte. My stem is in die boek. Reageer daarop! Praat in jou notaboek met jou stem. Maar doen nes jy wil. Dis jou keuse! Mense is vreemdelinge vir mekaar. Selfs dié wat die naaste aan ons is, is ook eintlik vreemdelinge. Hoe sal ons ooit weet wie hulle is, waarvandaan hulle gekom het of wat met hulle gebeur het? Want ons weet self nie wie ons is, waarvandaan ons gekom het of wat met ons gebeur het nie. Ons dink net soms ons weet. Kyk wat jy omtrent jouself kan ontdek deur die boek deur te werk. Ons probeer almal sin maak uit die lewe. Hierdie boek is my antwoord: 'n manier van lewe; 'n manier van skryf. Dis nie noodwendig of naasteby belangrik nie, behalwe as dit jou help om jou pad te vind. Want my pad is myne. En ons kan nie mekaar se paaie loop nie. Ons kom elkeen met ons eie geskiedenis en verledes en persoonlikhede en talente en verwerk dinge op ons eie manier. A returning bee communicates the location of flowers it has found to the rest of the hive by dancing. If the flowers are within 300 feet (100 m), it performs a circular dance. If the flowers are further away, it does a figure-of-eight dance with a pronounced waggle between the two loops. The dance usually takes place on the vertical comb, and if the waggle is upward the flowers are in the same direction as the sun. The angle of the waggle from the vertical gives the precise direction of the flowers, and the frequency of the waggle tells the other bees the distance to the flowers. Nicholas Saunders in Animal Spirits En só is ons mede-reisigers. Elkeen op ons eie pad. Al doen ons soms dieselfde plekke aan. Miskien voer ek net 'n byedans in die nes van die lewe uit met dié boek, en is al die woorde en maneuvers maar net hoe ek my woorde wikkel en my idees plooi om te vertel van 'n plek waar mens baie rykdom, van die soort wat werklik verryk, kan kry. Dis nie my plek nie. Ek het dit net gekry. Hier is dus my reisjoernaal. Doen daarmee wat jy wil. Eendag was daar . . . 'n storie. Jou storie? Mag dit met jou en jou storie(s) goed gaan.
Martie Preller |
![]() |
||||||
Kliek op die Kalahari prentjie om 'n boek
direk van kalahari.net te bestel. |