NICOLA B:
STRENG PRIVAAT
(1994: TAFELBERG)
FLAPTEKS
Liewe Dagboek
Vandag is Saterdag.
Ek het 'n reuse karbonkel op my neus.
En as jy dink dat ek 'n baie bekende dagboek probeer naskryf, vergeet daarvan.
Adrian Mole het nie kopiereg op puisies nie. Ek het ook puisies. Ek mag puisies
hê. Dis my reg as tiener. ('n Reg waarvan ek graag wil afstand doen.)
Wat gaan ek doen? Ek gaan vanaand na 'n gemengde partytjie toe. (In ons
"kringe" beteken gemeng seuns en meisies, nie wit en swart nie - ons sukkel nog
om die geslagte behoorlik te integreer.)
Maar terug na Karbonkel: puisies is een van die teisteringe in my lewe. Nog 'n
teistering is Bertus B Bossiekop, my boetie. Hy het sy hande oor sy oë geslaan
enteruggesteier toe hy my en Karbonkel vanoggend gesien het. Ek sal hom
terugkry.
Miskien kan ek met 'n masker gaan?
RESENSIE
Die ongewone titel van hierdie jeugverhaal trek dadelik
aandag. En dan word aan die verwagting van 'n besondere storie voldoen, want
die inhoud bestaan uit dagboekinskrywings van 'n veertienjarige meisie.
Aanvanklik praat Nicola met 'n "jy" wat die vermeteltheid het om haar dagboek
te lees terwyl sy duidelik geskryf het dat dit streng privaat is.
Dit begin op 16 Junie en gaan aanvanklik om klein alledaagshede, veral Nicola
se ervaring van haar lewe as vervelig en haar ouers as vreeslik gewoon. Met
tipiese tiener-arrogansie soek sy opwinding in 'n kastige swangerskap, voel
onseker van haarself en baie ontsteld oor 'n "reuse-karbonkel op my neus" (p.5)
Maandag, 23 Junie, begin Nicola uurlikse aantekeninge oor 'n Maandagoggend in
die skool. Dan kom die verandering as sy duidelik baie later eers terugkyk en
in 'n vertelling wat die grootste deel van die verhaal beslaan, 'n ontvoering
deur terroriste opnuut beleef. Dit word geensins 'n oppervlakkige relaas van 'n
avontuur nie: eerlike ervaring deur 'n eerstepersoonsvertelling gee
oortuigingskrag daaraan.
Die groep kinders wat ontvoer word, bestaan uit twee wit en twee swart meisies
an 'n seun. Reeds voor die spannende gebeure begin, word die afstand en
onbegrip tussen wit en swart aangesny en dit speel deurgaans 'n sensitiewe rol.
Kenmerke van Nicola se karakter word deur handeling geopenbaar. Haar emosies
wissel van angs tot woede en histerie, maar veral wil sy deurgaans weet hóékom.
Aanhoudend vra sy vrae; dit en baie kort sinne word 'n kenmerk van die
aanbieding. Haar weiering om passief te aanvaar wat hulle oorkom, laat haar
planne uitdink - al voel sy dis onregverdig: "Hoekom het ek saam met hierdie
vier in so 'n gemors beland?" (p.24). Dis skom. Aanhoudend vra sy vrae; dit en
baie kort sinne word 'n kenmerk van die aanbieding. Haar weiering om passief te
aanvaar wat hulle oorkom, laat haar planne uitdink - al voel sy dis
onregverdig: "Hoekom het ek saam met hierdie vier in so 'n gemors beland?"
(p.24). Dis sý wat 'n lys maak van moontlike optrede waardeur hulle kan
ontsnap.
Maar dis die swart meisie Ruth wat messe slyp en die eerste hond doodmaak,
waarna Nicola met afgryse 'n tweede een doodsteek. Dan is dit laasgenoemde wat
Ruth verbind, wat later bepaal hoe hulle moet vlugen wat agterkom dat iets nie
pluis is met die mense wat hulle sogenaamd red nie. Ook as hulle met geweerlope
teen die rug gedwing word om na 'n meer aan te stap, is dit Nicola wat weier om
dit te verduur: "Ek spring om en stamp die gerweer weg. Gryp na sy masker"
(p.53).
Die leser verwag dat die bevryding deur die "ek" sal kom. Dan is dit 'n
verrassende wending as 'n duiker haar vra om 'n bom wat op hul boot vasgemaak
is, in die water te stamp en sy dit net nie regkry nie omdat haar arms
vasgemaak is. Dan kry Ruth die onmoontlike reg en die klimaks is hierdie
verlossing wat met eenwoordsinne oorgedra word: "Warm. Veilig. Iemand huil. Ek
ruk. Ruk. Ruk. Ruk" (p.59).
Deur dié ervaring wil Nicola veral leer om swartmense as ménse beter te begryp.
Baie realisties slaag haar toenadering eers nie, maar as hulle wedersyds sover
kom om vir mekaar te lag, word 'n brug gebou: "Ek weet, ek weet êrens sal iets
vir altyd beter wees" (p.66). Só kry die slot universele betekenis.
Elsabe Steenberg
|
|