MAAR MY MAGTIG MOESOEK!
(1998: TAFELBERG)
FLAPTEKS
"Juffrou Betermeyer is 'n alien," sê Moesoek. "En Tee
ook."
Ek kyk na hom om te sien of hy 'n grap maak, maar sy gesig is uitdrukkingloos.
So begin daar vir Aron 'n vreemde vriendskap, en 'n vreemde vakansie.
Want vandat Moesoek in sy lewe gekom het, is niks ooit weer dieselfde
nie.
Moesoek wat altyd net sy vrae omdraai, Moesoek met sy koppige stiltes…Moesoek
wat 'n geheim wegsteek wat vier jaar gelede gebeur het.
In daardie Desembervakansie leer Aron wat dit werklik
beteken om vriende te wees.
'n Verhaal oor vriendskap met 'n hart wat warm klop.
RESENSIE
In hierdie sonderlinge jeugroman van 'n veelbekroonde
skrywer, staan die tema van vriendskap sentraal.
"Is julle nou vriende, of nie?" vis Winnie, die eenkant-verteller se heerlike
baldadige vriendin, nuuskierig oor sy verhouding met Moesoek, 'n geheimsinnige
buitestaander wat saam met hulle op skool is.
"Wat is vriendskap?" is Aron se aanvanklik onbevredigende antwoord. En dan bely
hy:" Ek weet sowaar nie. Ek sien hom amper elke middag, maar ek verstaan hom
nie."
Die rede vir Moesoek se raaiselagtigheid is nie ent dat hy 'n Indiër is en dus
sit met 'n ander kulturele verwysingsraamwerk as die Afrikaanse kinders op die
dorpie Vredehoek en Franskraal nie. Moesoek het 'n geheim.
Die boek se motto is 'n aanhaling van die filisoof Sisella Bok: "We are all, in
a sense, experts on secrecy." En is veral van toepassing op Moesoek. Want sy
geheim, wat vir Aron en die leser verborge bly tot byna aan die einde van die
boek, is ast'ware die dinamo wat die aansienlike spanning in die verhaal skep.
In Maar my magtig, Moesoek wyk Preller af van die werkswyse wat sy in haar
post-modernistiese Sanlampryswenners Anderkantland en In die tyd van die Esob
gebruik het.
Terwyl die twee boeke intrige-aangedrewe is, is Moesoek karakter-aangedrewe.
Dit het ook nie die soms serebrale truuks van die pryswenners nie, en is 'n
boek met 'n hart wat warm klop.
Die karakter Juffrou Betermeyer, 'n minsame maar eksentrieke ou dame in wie se
tuin Aron en Moesoek vir 'n deel van hulle somervakansie werk, dien as
katalisator vir die ontwikkeling van die twee hooftemas van vreindskap en
geheimenis.
Haar oorwoekerde tuin en haar verrassende glashuis vol orgideë in die middel
van haar andersins donker woning - is vrugbare teelaarde, nie net vir die
plante nie, maar ook vir die seuns se verwikkelde en soms onstuimige
vriendskap.
Aron is 'n oop boek en veel minder van 'n deskundige op die gebied van
geheimsinnigheid as Moesoek. Ons weet Aron is verlief op Aisha, Moesoek se
ouer, beeldskone suster en dat hy 'n swak selfbeeld het omdat hy vet is.
Soos wat ons meer van die verteller te wete kom, verdiep die newel om Moesoek.
Hy is briljant in wetenskap: hy praat oor sterreen swart gate in die ruimte:
dink dat juffrou Betermeyer, en haar hond, met die naam Tee, aliens is. En al
is hy skraal, eet hy soos 'n perd.
Moesoek se oormatige en gedurige behoefte aan kos en die normaliteit van Aron
se gesin, dui op 'n dieper psigologiese behoefte. Daar is 'n gemis in sy lewe.
Subtiel, meesterlik selfs, bou Preller in informele, lighartige trant aan die
stewige vriendskap sodat dit die krisis, konfrontasie en katarsis in die
hoofstukke met die sprekende titels "In die nag" , "Konfrontasie" en "Geheim"
kan weerstaan.
Ironies maak Aisha, die objek van Aron se liefde en vrugtelose versugting, hom
haar vertroueling wanneer sy "In die nag" saam met die plaaslike
motorwerktuigkundige wegloop na haar "verbande" ma.
Moesoek spring vir Aron voor en vra Winnie na die skooldans toe. Dít en die
inligting oor Aisha, wat Aron in Juffrou Betermeyer se glashuis oordra aan
Moesoek, is die oënskynlike redes dat hulle handgemeen raak en in die proses
baie van die plante in die glashuis breek en verwoes. Uit die subteks lei jy
egter af dat die konflik spring uit die geestelike pyn wat Moesoek nie kan
verbaliseer nie en die feit dat Aron voel Moesoek vertrou hom nie.
Moesoek se woorde, wanneer hy die verwoesting sien wat hulle in die glashuis
gesaai het, is: "Die orgideë bloei."
Dit is die sleutel tot Moesoek se geheim en die poëtiese swaarte- en middelpunt
van die teks.
Met hierdie gelaaide woorde, gebruik Preller T.S. Eliot se sogenaamde
"objective correlative". Daar is as't ware 'n korrelasie tussen Moesoek en sy
persepsie van wat met die orgideë gebeur. Hierdie "bloei", gelees saam met die
treffende openingsin van "Geheim", net ná Aron Moesoek se kamerdeur afgebreek
het: "Sy hande was vol bloed…" lei tot die asembenemende ontsluiering van
Moesoek se geheim. Die "bloed" is bloed, maar ook nie.
In die lig van Moesoek se geheim is die prosaïse omslag-ontwerp, om die minste
te sê, 'n teleurstelling. Hierdie digte, vernuftig gestruktureerde teks met sy
keurige aardige Afrikaans en seldsaam sensitiewe beeldgebruik, verdien beter!
Moesoek! Is myns insiens, 'n nuwe hoogtepunt in hierdie talentvolle skrywer se
reeds indrukwekkende oeuvre.
Barrie Hough
|
|